Showing posts with label diere. Show all posts
Showing posts with label diere. Show all posts

8.11.17

Herinneringe

dít, gistertyd se donker dinge,
omvorm kort voor dagbreek
in ’n kenotaaf waarbinne
ons herinneringe soos bleek
skandes weggebêre lê

herfsblaarbruin passertjies sit kletsend
op die bloedbruin prikkeldraad
in die agterplaas en tjir-tjir vir
die son wat nes ’n plaaskat bolrug hurk
voor sy skielik kurk-uit-bottel sterverskiet

’n boog bo-oor als wat rou en blou is

in grafte weggebêre lê
ons herinneringe van gisteraand
se donker dinge waarvan die mossies
en die katte en die nuuskieriges
niks weet nie

maar eendag is eendag
sal ’n grafrower
díe donker dinge
weer optower


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.9.16

Wilde Ganse

’n Vryvertaling van Mary Oliver se gedig “Wild Geese

Jy hoef nie goed te wees nie.
Jy hoef nie op jou knieë te loop
vir ’n honderd kilometer en berou nie.
Jy hoef slegs die sagte dier van jou liggaam
toe te laat om waarvoor dit lief is, lief te wees.
Vertel vir my van wanhoop, jóúne, en ek sal mýne belei.
Intussen gaan die wêreld aan.
Intussen beweeg die son en die duidelike klippies van die reën
steeds oor die landskappe heen,
oor die grasvlaktes en die diep bome,
die berge en die riviere.
Intussen is die wilde ganse, hoog in die skoon blou lug,
weer oppad huistoe.
Wie ookal jy is, ongeag hoe eensaam,
die wêreld bied ditself aan jou verbeelding,
roep na jou soos wilde ganse, skril en opgewonde—
kondig oor-en-oor jou plek
in die familie-van-alles aan.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.11.15

Die rooi kruiwa

’n Vryvertaling van William Carlos Williams se "The Red Wheelbarrow" -- ’n voorbeeld van die Imagisme-skool. 



soveel hang af
van

’n rooi krui-
wa

verglans met reën-
water

langs wit
hoenders.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.10.14

Platvloerstuis

Daar is ’n kraai, swartnat gereën van verdriet,
en ’n kat, ewe nat en miserabel gebad
in die sorge van môre, en ’n treurige hond
sonder baas, en ’n sielsverskrikte kaaslose muis—
almal ewe lewensmoeg en platvloerstuis in my hart.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.4.14

Die jagter kom tuis

Liefie! Liefie! ek is tuis!
Liefie kyk, ek's by die huis.
Ek het vir 'n bok gejag:
heeldag by die pan gewag.

Stook die vuur, ek slag solank;
vannag fees ons vir ure lank:
en vryf ons lywe blink met vet,
ten eindelaas ons heelnag pret!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.2.14

groenweivelde

2005/2006


In die trippel van jou lippe
wat soos wolklammers
oor die blou-oog van die hemel drawwe,
les my lentestogte, my drommende driwwe,
my liestelike gierigheid.

In jou lieflike loulyf
lafenis my bronstigheid–
vind ek rus in die groen
weibemindlikheid
van jou kruine en dale.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

30.1.14

Bamboesbos

2006/2007


laat ons ontmoet in die bamboesbos
waar die smaragte langbeen elkaar ritsel
soos skoffelende vingers op ’n lier,
soos vere en vlerke en papierwaaiers
                                                            laat ons ontmoet

laat ons ontmoet in die groen soenbos
die bamboeswagte hou kywie
gewaar hoe hulle erektiele waghou-spiese
ons bewaar, die liefde binne, die haat buite,
                                                            laat ons ontmoet

laat ons ontmoet in die firiele bos
van olyfgroen stutte en lemmetjie-groen latye
wat katedraal oor ons bamboeslywe
styfglad en kaalgespan soos reiers staan
                                                            laat ons ontmoet



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.1.14

Migrasie

[Nou nie juis een van my beste pogings nie, maar soms moet 'n mens die rowwe sketse ook die dag laat sien.]


Met vakansietyd word die buitelander ooievaar,
migreer kortstondig terug na sy uitbroeiland;
maar landshervorming het sy geboorte-nes,
en geboortebloekom om gebulder—
net vir ingeval pik hy deur die koerante,
maar swartekonomiesebemagtiging
sê ooievaars is te wit, is europeers;
vir oulaas kyk die witvoël rond
vir 'n hen (of haan),
maar hy was te lank uitlandig;
almal is reeds ge-nes en gepaar
of nou geskei met kuikens
en bagasie te swaar vir die rit na die vreemdeland,
en so vlieg die haan alleenig terug
na die verreland,
sonder hen of kraai of remembrand.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.6.13

Storm

hoog,
hoog bo die werwels
van kruin en van krans
stamp hulle kop:
die bulkende takbokke—roetgrys
en op hitte; hulle muskus stoom
in ons neusholtes, kondenseer
op ons hygende tonge, drup
met ons kaal lywe af soos sweet,
soos seks—ploeg met hulle silwer
horings en hulle drygende hoewe
klonte roes grond uit die aarde op;
hulle duik soos branders en die hemel
hou sekondes lank haar asem op—
en dan, die botsing:
die wollerige ramme, asof oorlogskepe,
pletter teen mekaar.      alles.      skud.
die ganse aarde bewe.      hulle pronkende
lywe sidder en vanaf elke regop haar drup
'n stinksoet druppel—skrikwekkend
besield soos testosteroon, spermatozoonverkwik
met lewensvonk—die vrugbare aarde drink,
en word dronk.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

30.9.12

The Heist

Dragonfly hovers, then lands upon your lips—a sealed lotus—
and with its soft touch picks the lock. Slug gently oils the hinges.
The bulb relaxes, slightly parts—just enough for Tadpole!
He slips in, slides through the corridor, locates your levers
and opens wide the gate. My mouth manoeuvres to the exit
as I patiently await your attempted escape.
When you exhale, I swallow your spirit in one ecstatic gulp.
With this kiss I seal you in me. Thus blackmailed,
you dip your tongue in my ink and sign on the dotted line.
The contract reads: I am yours; you are mine.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.9.12

Iemand huil


dis nie die wind wat huil nie,
nie die wolf of die uil nie,
nie skaap of muis
of iemand tuis nie—



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.9.12

Sportsmanskap

Oor jou sweetwarm lyf lê ek
my volle gewig in spieëlbeeld
en skielik kompeteer ons
reflekterende organe:

my hart en jou hart hurk gereed
klop een-twee-drie     spring weg!
ons mage grom nes onbekende
honde binnesmonds vir mekaar
ons monde pluk hul swaarde uit
en snel nes gladiators na die slagveld
ons hande stormloop mekaar soos ramme
takbokhoringpalms KLAPS!
ons genitalië: ongeskikte xenofobe
wat mekaar vloek en slaan en spoeg.

Maar agterna omhels ons resieswarmlywe
uitasem, tog genoeë, soos dit sportsmanne betaam.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.7.12

Boek en boekmerk

Image Source

Nes 'n boek val jou dye voor my oop en ek verdiep my aan jou binnebene
se roomkleurige blaaie en die botterreuk van leer en van papier en my oë hardloop
met los heupe oor jou letters en ek blaai jou verhaal met my geletterde tong
by kerslig tot die dagbreek kom en as ek jou laaste sin ingesluk het

—my asem vir 'n ruk opgehou het—

klim ek dan 'n wilde perdeblom jou binneblaaie in en soos 'n vlerk vou jy ferm om my
en met 'n storie se geduld pars en tem jy my tot ek 'n makgemaakte boekmerk in jou bly.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.7.12

en ek wonder hoekom / and I wonder why

en ek wonder hoekom

soos om 'n bok af te slag stroop jy gedetermineerd my uit my klere uit,
strooi my hemp en belt en broek en onderbroek en kouse in die wind,
en ek wonder hoekom ek nie terugdeins voor jou jagtersmes nie.

wanneer jy my om die nek vat en met jou erektiele tong die vagina
na my long volstop en ek terugval soos 'n verslaande op 'n slagveld
en myself aan jou oorgee wonder ek hoekom ek nie veg vir asem nie.

ek word wakker met my eiers genes in die bak van jou palm
en ek wonder hoekom ek nie bang is—só met die weegskaal
van my manwees in die greep van jou manlike hande—nie.

ons trek aanjy maak 'n wurgtou van my das, skuif die mambakop tot teen my keel,
vou my kraag plat teen my skof en vee onsigbare stof van my skouers af, 
en ek wonder hoekom ek nie jou bloeddorstige nabyheid vrees nie. 

jy hou my bebloede ontwortelde hart soos 'n vrou se tiet met hard-
handige verkoestering vas en ek wonder hoekom storm ek nie om
dit uit jou selfversekerde greep soos na iets kosbaars te gryp nie.


and I wonder why

like slaughtering a steer you determinedly strip me from my clothes, 
scatter my shirt and belt and pants and underpants and socks to the wind, 
and I wonder why I'm not recoiling from your hunter's knife.

when you take me about the neck and plug with your erectile tongue the vagina

of my lungs and I fall back like a conquered on a battlefield 
and give myself up to you, then I wonder why I'm not fighting for breath.

I arise with my eggs nested in the pot of your palm 

and I wonder why I'm not scared—so, with the balance scales 
of my manliness in the grasp of your manly hands.

we get dressed—you make a noose of my tie, push the mamba head against my throat, 

fold the collar flat against my nape and wipe invisible dust from my shoulders,
and I wonder why I'm not frightened of your bloodthirsty closeness.

you hold my bloodied uprooted heart like a women's tit with hard- 

handed nurturing and I wonder why I'm not storming at you to 
snatch it, like at something valuable, from your confident grip.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.3.12

Sommer maar net troos woorde van 'n pa aan sy dogter

Die vers kort eintlik nog baie werk, maar ek is nie lus nie, so hier is dit dan nou: sommer maar net. 


Hartskind, vertrou nie jou onderbewuste nie—

Hy's 'n liegbek!
Hy koggel jou met valshede:

Kloek dat jy kuikennietig is
sonder 'n vlerk vir skuiling;
kwaak dat jy onaanskoulik is,
(wat weet iets wat nie aanskou kan word nie van sulke dinge?);
Poets dat jy 'n pennie tussen ponde is,
(Dis omdat hy net pennies aangebied word, dat hy sulke snert kwyt raak).

Nee, my meisiekind—

Jy's 'n Vuurvalk,
nie 'n hoender nie;
'n Swaan,
nie 'n eend nie,
'n Krugerpond,
nie 'n sent nie.

Jou toekoms hou hemelse katedrale in vir vlieg;
berge staan in rye om jou hul skuiling aan te bied;
mere lê tjoepstil en hou hul asems op,
om nie jou asemrowende weerkaatsing leed aan te doen nie;
skatkisse slaan vuis vir die eer om só goue munt te huisves.

Nee, my prinseskind—

Luister nie na daai slegoom onderbewuste nie:
Hy's 'n vuilbek,
liegbek,
en as ek hom in die hande kry
gaan ek hom bliksem.
Niemand praat so van my mooikind nie!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.1.12

"Internet Kill Switch"

Wortels koek kapilêr om digitale klont en elektriese klei
waarop 'n mosterdboom—met takke vir al die voëls
van die hemel om onder sy skaduwee nes te maak—stewig,
soos 'n ligtoring, geanker is.

Oom Sam hou nie van die gekloek van wilde kalkoene nie
en staan met byl teen stam, en hammer en sekel, gereed.
Ongetemde kalkoene, soos uitgesproke protestante,
se koppe word afgekap—óf verstik aan 'n druiwetros.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

26.11.11

My liefie se lyf

Die Vrystaat se vlaktes is kraakwit,
die skaap en bees se asems spook;
vandag gaan g'n trekker start nie,
maar ek gee nie 'n koei om nie:

My liefie se lyf is koffiewarm.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.11.11

My ribbekas

’n biddende vuis,
’n gebeende kou,
wat ’n rou kanarie binne hou.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.10.11

Optelkat

Jy maak 'n optelkat van my—
maar dis okay:

ek sal—vir nou—jou toelaat
om van my te hou;
soms my op jou skoot te lê,
en lief te hê.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.7.11

Rampokkers

Ek en my (n)ooipokker
vrees nie die liefde nie:
ons pak die gulle bul
en mooie koei
by die horingste horing
en spulste speelste speen.
Ek en my karnallie-sy
weet van lekker kry.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence