Showing posts with label dood. Show all posts
Showing posts with label dood. Show all posts

29.9.25

The Alchemist’s Lament

Can the charméd light of the firefly
by mortar-and-pestle be procured?
Or, the living breath be bottled-up
and so extension be insured?
Oh, how that flitting spark denies
another vessel as its cup!

Alas, when that Great Solstice comes,
cloaked in shadow and decay,
both light and life smothered be:
the spritely vivacity falls away.

And no test tube or pipette,
no ointment, no tincture, no ritual nor prayer
has yet—or ever shall—exhume
the Secret of what once was there.


Originally published in An Introduction to Poetry Theory (2025).

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.9.25

Feste se lied

’n Vryvertaling van Feste se lied in William Shakespeare se Twelfth Night, Bedryf 4, Toneel 2.

Kom hierheen, kom hier, dood,
en laat my in smartlike sipres lê.
Vlieg weg, vlieg weg, asem:
ek is afgeslag deur ’n mooi-wreed vrou.
My wit doodskleed, oral om met yf gestik,
o, berei dit voor!
Want nimmer een het my porsie aan die dood
so trouhartig gedeel nie.

Nie ’n blom nie, geen soete blom
mag op my swart kis gestrooi word nie.
Nie ’n vriend nie, geen vriend begroet
my arme lyk waar my beendere gegooi word nie.
’n Duisend-duisend versugtings gegiet...
ag, laat my tog net lê, daar waar
hartseer opregte geliefdes nooit my graf mag vind
om daar te ween nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.7.24

Die opstanding van Eva

Die Opstanding van Eva

3 November 2006

 

Soos ’n kind slapies tel vir Krismis, 

só wag ek vir Jesus om die son te gryp, 

dit met sy hande plat te spin nes pizza-deeg

en dié goue kleed as pantser om sy breë skouers te gooi.

 

Ek wag ongeduldig dat hy op die rug 

van sy gunsteling cumulus moet spring. 

Die wolk sal eers nukkerig sy wollerigheid afskud, 

dan groot wit vlerke ooprol soos seile op ’n skip, 

en eindelik, met wit spiere, soos ’n padda spring

– Aarde toe.

 

My Here se ligkleed sal hom volg soos ’n vurige rivier; 

sy gevleuelde weermag gewapen 

met pikke, spitvurke en grawe, agterna. 

Dis oestyd. 

As die trompet blaas – die skof aankondig – begin die delwery.

 

Ek gaan een engel om die hals gryp soos Jacob. 

“Wys my! Wys my mý engel se graf!”

Ons gaan draf, ’n ewigheid naby, 

tot waar my slapende skone lê. 


Die toneel is laf:

 

’n Dooie wat lui uitstrek, 

gul gaap, uitgerus glimlag en sê: 

“Ek’s dors – iemand vir ’n koppie tee?”

 

Ek gaan jou gryp 

en met slobberige heimwee soene 

die stof van jou gesig afskilfer. 

Jy gaan frons soos ’n pasgeborene.

 

“Wat’s fout met jou?! 

Is jy nog nie oor daardie donderse depressie nie?”, vra jy. 

Hoe kan ek depressief wees met my verlorene 

nou ’n nuut geborene, gaan ek dink. 

“Vir wat die oordadige affeksie?” 

Verlange is relatief. Jy het my ’n dag gemis. 

Ek mis jou reeds jare lank, maar ek sê niks nie. 

Ek hou jou net vas asof jy enige oomblik wind gaan word.

 

Miskien gaan ek vra hoekom jy nie jou sexy denim 

vir hierdie okkasie aan het nie 

en jy gaan met jou kritiese oog sê dat jou blink nuwe rok 

meer gepas is, al sit dit bietjie losserig om die middel. 

Dalk sal jy mompel dat dit na ’n kraamrok lyk, 

maar jy hou van die materiaal.

 

Ek gaan lag. 


Ons gaan rond kyk en sien of ons nie Amanda Strydom

êrens sien nie. Sy gaan ’n negro-spiritual sing. 

Ek vermoed “Swing low, sweet chariot”. 

Ons familie en vriende gaan oral om roep 

soos afslaers op vandisie dag. 

Ons gaan beurte maak om mekaar se geliefdes te soengroet – 

maar nie mekaar se sy verlaat nie. Nie weer nie.

 

Jesus gaan ons nooi vir piekniek 

onder die Groot Boom. 

Ons gaan op ’n blokkieskombers sit. 

Hy gaan ’n kitaar van nêrens af na vore bring – 

jou maroen akoestiese kitaar met die prentjies op – 

en gaan vir ons ’n liedjie sing. 

Ons gaan aan die deuntjie hang soos verliefdes. 

Jy gaan borrel oor die harmonie. 

Ek gaan ekstaties raak oor die beeldspraak.

 

Vir ’n duisend jaar gaan ons verlore tyd inhaal. 

Ons gaan dekades lank gesels oor dieselfde onderwerpe. 

Ek sal vir jou sê dat ek jammer is oor so baie dinge. 

Ons gaan ’n bietjie huil. 

Jesus gaan ’n boks tissues nader trek.

 



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.9.19

soos waterverf

Jou vat aan my
kol my buitelyne
soos waterverf asof ek oplos
met die streel van jou vingers
oor my keel asof elke plek
waar jy proe en lek
vloei, gloei, verdamp—

skadu’s voor ’n lamp
fluisterwoorde
in die wind

soos onskuld
noodlottiglik verslind.

Hoeveel van my gaan oorbly
ná al jou kastyery?




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.1.18

’n Haiku, met besoek aan Kambodja

kyk hoe goed voed die gras
op die bloed en die as
op skedel en karkas



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.9.17

Eindelaas

So potsierlik—tog!—die ouderdomspredikament
wat—aai!—so natuurlik van my hoop
en van my angs iets inherent onnatuurlik
konstrueer en konsterneer: die verskrilike vrees,
soos vir die donker tweederangs,
vir verkranklike ouderdomswanhoop.

Daar is niks daaraan te maak nie:
Geen manier vir hokaai en geen nut
aan bohaai nie. Nét, saamlag
met die gode oor dié bespotlikheid
dat eers toe ek die dood aanskou,
het ek met berou geweet wat die lewe is,
en skroom ek nou oor lewensdrome ongehits.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.10.16

Groen gras en rooi grond

My slapende geliefde
se koue beendere
is ’n kaggel waarby
nostalgiese gedagtes
soos winterskinders
kaalvoet sit
en probeer
vingers&tone
warm maak.

Eendag sal ek nog
my verdorde geliefde
se tuin besoek,
’n bos blou tulpe bring,
en daar op die gras
kaalvoet sit,
met pen&pampier,
en met kitaar,
dat daai mooi
komposisie
wat ons lank, lank
gelede begin het,
klaar kan kom
om só ons liefde
op te som.

Wanneer ek klaar is,
met ’n son en maan
wat treur en taan,
sal ek pens&pooitjies lê
en die deuntjie neurie
die groen gras
en rooi grond in,
sodat haar koue klei
kan resoneer,
kan vibreer,
en dalk, miskien
weer vlam kan vat
en dalk, miskien
ons nog ’n keer
soos toentertyd
saam kan sing
en kan jolyt!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.4.16

Wat nag is

Die dag toe jy dood is 
slaan my hart 
die sonsondergang
'n bloukol. 
Ek verstaan nou
wat nag is. 


Al daai stories oor die aarde 
wat draai is bog. 
Dit is derduisende treurendes se harte 
wat met gebalde bitter vuiste 
dag na dag die hemel swart slaan— 
dít is wat nag is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.3.15

'n Digter se waarskuwing

nie elke blom is 'n gedig nie,
nie elke wolk 'n perd of draak nie,
nie elke sonsondergang of volmaan
'n okkasie vir romanse nie.

soms is 'n roos 'n roos 'n roos
en 'n wolk bloot 'n swerm watermolekules
tydelik bevry van gravitasie se slawerny,
en sak die son beangs sy graf binne,
en klim die maan skarlaken haar kadel uit
en staar bloeddorstig uit oor al die donkerdade
wat slegs snags onder haar grootoog nagwag gebeur.

nie elke soen bemin nie,
nie elke “ek het jou lief”
weeg dieselfde op 'n hartskaal nie,
nie alle seks indring nie,
nie alle waarheid word met 'n liniaal bepaal nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.9.13

ons loop trots

Hierdie voetslaanpad is nie geplafei nie,
die duike is nie opgevul en die hewels nie plat gefyl nie:
inderdaad, dié pad is nie vir 'n koning voorberei nie,
dis 'n wandelpad: vir diere en gepeupel,
vir gewone hardwerkende gewemel, soos ons—

maar my liefling, fok die koninklikes: ons loop die pad
met ons eie voete—ons trap ons lewens oop, tree vir fokken
tree, self: as ek val help jy my op, as jy moeg is abba ek jou
en af en toe rus ons teen 'n skurwe krans en skep
ons asems met bakhande uit 'n spruit tot lafenis—

ons loop die pad begrafnis toe self: elke oopgebarsde blaas,
elke rou gevalde knie, elke litteken, elke blek, elke traan
is 'n merk dat ons geleef het—dra jou medaljes soos 'n veteraan:
trots en voorbarig! want, my vriend, dit is welverdiend.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.9.13

ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad / Once Upon a Time I Had Also Had a Mother

Ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

ek het ook
op 'n tyd  
lank gelede
toe wolke nog diere en skepe was
'n moeder gehad

'n ma

'n mamma

wat soos 'n god
my lank lank gelede
gesoog en versorg en verknog het
wat in my die potensiaal gesien het
wat slegs God en moeders kan sien
wat die eerste vrou in my lewe was
die templaat vir al wat vrou is
van Eva tot nou is

ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

en soos alle moeders het sy ook
onder jou koue lem beland
jou rypvingers het haar om die keel gegryp
en God het staan en toekyk
want dis die lot van alle moeders
dat hulle kinders kan onderskei
tussen God en mens
tussen Hom en klei

op 'n tyd het ek ook 'n God gehad
soos 'n moeder

Once Upon a Time I Had Also Had a Mother
I had also had
once upon a time
long ago
when clouds were still animals and ships
a mother
a mom
a mommy
who like a god
long long ago
nursed and cared for and pampered me
who saw in me the potential
that only God and mothers can see
who was the first woman in my life
the template for all that a woman can be
from Eve till now
I had also had a mother once upon a time 
and like all mothers she had also
come under your cold knife
your frigid fingers had her by the throat
and God was just looking on
because this is the fate of all mothers
so that their children can discern
between God and man
between Him and clay
once upon a time I also had a God
like a mother


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.6.13

só mooi

jy is vir my baie mooi
mooi soos geboorte
soos die geboorte
van slymvars verimpelde mensies
wat soos paddavissies hul naelstringe
soos stertjies afgooi—nat agter hulle voetoortjies
en nat onder hul oorvoetjies—vreeslik
mooi is jy soos die dood van 'n verimpelde
oumensie wat 'n vol lewe vol verdrukkende
hartseer en slymvarsgeluk—bietjies-bietjies
gewis soos brood en water—gehad het
en met 'n diep sug      die gees gee      en rus—
só, so mooi is jy vir my.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.9.12

Aan die maagde, om nie tyd te mors nie

'n Vry vertaling van Robert Herrick (1591–1674) se “To the Virgins, to make much of Time”.


Pluk roseknoppies wyl jy kans het,
Outa Tyd is aan die vliet:
Die blom wat tans 'n glimlag het
is môre dalk tot niet.

Die glorieryke lamp, die son,
hoe hoër hy in die hemel hang
hoe vinniger is sy resies om,
en vroeër is sy ondergang.

Die prille leeftyd is tog beter,
'wyl jeug en bloed nog warm is:
eens opgebruik, is alles slegter
wanneer die houer koulik is.

Wees nie skaam nie, benut jou tyd,
en terwyl jy kans het, loop en trou:
Want eens jou lewensbloei verstrek het
mag jy dalk vir altyd rou.
 

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.6.12

Plaas

2006

die land het bros geword
soos ou broodkors gemuf
lê nou oop     rou     skurf
soos 'n ou boervrou verwurg



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.12

op daardie dag

?op daardie dag wat kom:
wanneer ek my laaste gaap en sug sal gee,
en die lewensborrel wat reeds sedert geboorte
sy rit diep in my siel se oseaan begin het,
díe dag deur die oppervlakte breuk
en met 'n sagte prik die laaste onsie animasie
soos 'n baba-nies die niet in priem;
gaan jy daarwees om my brosbroodlippe
een laaste maal te groet, my gelynde koue voorkop
en yl graswit hare een laaste maal
met jou welbekende, welgeliefde hande
plat te vee, my ewigkykende oë
toe te vee, en my stokkerige hande
vas te hou totdat die lou koud is,
gaan jy daar wees
:op daardie dag wat kom?


 ... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.5.12

Wintersbode


vannag, sag soos die dood, het sy op ons toegesak.
nie met wraak nie [wraak is so harde woord].
haar dons spooklig en lykklam weggesak ons hole in,
maar met [durf ek dit sê?] teerheid. asof sy treur
oor die verwoesting wat sy bring – steeds sag gebêre
onder haar moederlike ouvrouvlerke.

dis tussen die geluide,
        daardie normale geluide
        van mense en krieke en karre en honde,
dat jy haar neurie hoor – doodstil soos ’n soen,
weggesak ons holtes in. asof sy jammer is
oor die verwoesting wat sy bring – versigtig
toegevou.
             vannag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.1.12

Dinge om te vrees #1

Vrees nie die afgestorwes nie,
vrees hulle kroos;
die dooies weet niks nie,
die léwendes is boos.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.12.11

Verjaarsdagwense

Díe dag,
vandag,
jou verjaarsdag
het my onverwags betrap

soos die Wederkoms.
Dit was nes in die dae van Noag –
ek het nie gedrink nie,
maar ek het geëet en gedink aan trou.

Soos die Wes-Transvaal se lente –
die takke swel pitswere
skielik (sonder serimonie) bars dit blertse:
semenwit      tepelpienk      skrotumperse

en dan,
die bloeisels
wat soet parfume poep.

En dan nog skieliker,
met ’n snik en ’n snak,
is dit somer.

Só betrap jou verjaarsdag my
en ek kry toe maar blomme
(nie tulpe nie, ek het jou al te veel daarvan gegee):
geel daisies en blou gesiggies en raffialint
en stasioneer dit in ’n fles in my kamer.

En toe bid ek maar vir almal wat vêr is
(maar nie vir jou nie, want gebede aan die dode is kettery).



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.11.11

Fiktiewe martelaarsendeling in die Oriënt

ewenas ’n oggendkoerant
blaai jy my dat ek slem
soos ’n oosterse waaier
– frit –
              knak my ken
jou tong lem
jou lem snit
my siel bloed
kersiebloeisels drup
my keel groet
“Vader vergewe,
                            en Amen”



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.10.11

'n Opinie omtrent bygestaande selfmoord

Ek nes my lewe in klam rooigrond:

'n pêreltjie—oënskynlyk leweloos—skiet
skielik 'n harige stertjie suidwaarts,
'n kordadige nekkie priem noorde toe;
die gevuisde lentegroen koppie
vou oop soos twee palmpies na gebed
of voor applous en glimlag vlinderlik.

Natuurlik, figuurlikgesproke het ek my lewe
so geplant en met die selfde aanmatigheid
wil ek, wanneer die tyd ryp is,
die pêreltjie weer oes—sagkuns ontwortel,
die lewensare se konneksie met die klam
rooigrond kortknip, die vlinder laat verwelk
en die korreltjie wat aan my geleen is teruggee.

Want, toe ek ontkiem het,
was dit 'n deftige—en toweragtige—affêre
en daarom wil ek ook op 'n betaamlike
manier sterf—sans towerkuns natuurlik—.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence