Díe dag,
vandag,
jou verjaarsdag
het my onverwags betrap
soos die Wederkoms.
Dit was nes in die dae van Noag –
ek het nie gedrink nie,
maar ek het geëet en gedink aan trou.
Soos die Wes-Transvaal se lente –
die takke swel pitswere
skielik (sonder serimonie) bars dit blertse:
semenwit tepelpienk skrotumperse
en dan,
die bloeisels
wat soet parfume poep.
En dan nog skieliker,
met ’n snik en ’n snak,
is dit somer.
Só betrap jou verjaarsdag my
en ek kry toe maar blomme
(nie tulpe nie, ek het jou al te veel daarvan gegee):
geel daisies en blou gesiggies en raffialint
en stasioneer dit in ’n fles in my kamer.
En toe bid ek maar vir almal wat vêr is
(maar nie vir jou nie, want gebede aan die dode is kettery).
... Sanko Lewis
my gedooide
ReplyDeleteverjaardag
17 Desember 2006
is so gesond
dat ek byna-byna
vergeet het
maar tyd maak
seer sagter
en met die lees
hiervan sit ek snot en trane en tjank
vir genade
om my bitter-seisoen
te kon begrawe
tyd heel alle wonde
na winter moet lente kom
'n wet ononderhandelbaar
in die aarde se kors
ingeskryf
s t e r k t e
Ek is gelyktydig (weens selfsug as skrywer) bly dat my gedig jou tot trane kon dryf, en (met opregte empatie) jammer dat die gedig jou seer herroep.
ReplyDeleteDankie vir sulke mooi poëtiese replieke.