My kind,
jy ruik vars:
vars soos ’n pasgebore brood
soos ’n perskeboom waarop die sterre
laasnag neergedaal en watte geword het
soos bokspring kalwerliefde na die reën
wanneer haasbekkies om die kys vra
terwyl jy nog vars is
gryp hom vas, my kind,
hou die lewe grootvas met jou klein hande
staan wyd en grou jou stomptoontjies
soos bergbokkloutjies teen die krans
wurg hom, my kind,
wurg hom vir alles wat hy het
suig sy murg leeg
tot jy blink om die bek:
spekvet en gelukkig!
... Sanko Lewis
Ek lees
ReplyDeleteMy kind,/jy ruik vars:
en ek weet skielik hoekom jou gedigte my
aanspreek. Hulle vars heerlike eerlikheid
praat my taal en, al laat ek nooit 'n spoortjie nie, geniet ek elke nuwe ene!
Anoniem, ek is bly om te hoor dat jy die gedigte geniet en dis wonderlik om te weet dat al bly mense op verskillende uithoeke van die planeet, 'n mens steeds dieselfde "taal" kan praat.
ReplyDeleteOmtrent eerlikheid, dis, mynsinsiens, een van die enigste pligte van 'n kunstenaar--om eerlik te wees.
As die gier jou byt, kom laat maar weer 'n spoortjie in die toekoms.
Ek hou baie van hierdie gedig!
ReplyDelete