Showing posts with label landskap. Show all posts
Showing posts with label landskap. Show all posts

13.8.17

’n Liefdesverklaring

díe agtermiddag son

’n goudfisant
skop stof op die skof
van die land

is duidelik
ge-photoshop

want géén egte geel
is só geel
soos díe son
se goudgeel nie

maar jý my manlief
of my vroulief
is my regte égte
lief-lief


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.5.16

Die groot boom

Die groot boom in die veld
staan hoog soos ’n generaal
en staar oor die groot Transvaal.

Die groot boom se wortels
grou diep, en grawe sterk
die landstreek onder uitgestrek.

Die groot boom staan op sy tone
en waai sy takke ’n koepel wyd:
hy adverteer sy eensaamheid.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.8.12

Landskapskilderye


By 'n uitstalling van landskapskilderye sien ek kranse: hoekige kranse
in groenfluweel gedrappeer soos die randte van grafte, en wolke soos tantes
met goedversorgde witpelse afgeëts teen hulle donkerblou begrafnisrokke;
en berge breed soos renosterrûe, en bergtoppe puntig soos jagse tepels,
en growwe bokserkneukels vir heuwels, en 'n waterval wat 'n vallei oopsny
soos 'n vagina se snit; en bome: kameeldoringbome met platpiering krone
wat soos waterlelies op die spansel van die hemel dryf; en bloeisels wat blink
nes kersfeesliggies, en blomme—gretige kuikenbekke wat hap-hap na bye;
en 'n bamboesbos, 'n houer vol strootjies; en 'n landskap oopgeverf soos 'n gedig.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence