1.10.20

val ons deur mekaar

my siel suis soos ’n komeet
deur sterrestelsels val ek
deur jou soos ’n ster verskiet
deur jou val ek jou verby
soos ’n satelliet mis ek jou
deur my verdriet deur senuwee
en -stelsel val jy deur my sinapse
deur my vingers soos sand
deur my lewe deur jou hande
soos die see vol trane
val jy my wese uitgespoeg
soos woorde: klippe val
om te stenig, só val ek,
so gooi ek die eerste een
en val uit my hart uit
deur jou val ek
tot ek leeg uitgegooi
en vervalle is val ek
deur jou en jy deur my
deurmekaar val ons
deur mekaar

2007


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.9.20

Laaste krismis

Oepsie! Net ’n glipsie!
Pandora sê dit wassie asprissie:
dié pandemie, dié korrupsie
'n mistasting, ’n mistrappie—

Oepsie! Net ’n blapsie!
Loki sweer dit was ’n foutjie:
dié ontploffings en proteste,
net vergissings, flaterissings—

Onheilspellende eklipse,
noodlottige apokalípse,
katastrofes, kataklísmes:
is 2020 ons lááste krismis?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.8.20

Afskeepbrak

nou ja, staar ma’ daarna,
sit dit dan onder die soeklig,
gewaar hoe my hart se punt
gerig is in jou rigting in
soos 'n kompas ewig noordwaarts,

soos 'n hond lojaal en getrou
volg dié ou hikkende klont
van my vir jou huiswaarts
en trap modderspore in die kombuis
waar ons woordloos aan tafel sit

en wye snye tuisgebakte brood
met botter dompel in reënweersop
en die hond snoep krummels op
wat van die tafel afval
soos in Christus se verhaal


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.7.20

Na ’n belewenis poësie

Ons vry ons vriendskap warm met die vers
Cloette       Jonker      Krog      Brytenbach
naai ons breine bras
tot ons kots van euforia
vergiftig deur die metaforia


16 Junie 2004
... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.3.20

Die konsertmeester

kook en bleik
en droog en kerf
my beendere

ryg gare:
     herwin kneukel en gewrig
     tot gru windklingels

boor gate:
     suig my murg uit en fluit
     dooie deuntjies my femur in

span snare:
     pluk makabere melodië
     met my verharpde rugstring

monteer:
     die trofee—my skedel
     wat met bleek gebit in stilte skree


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.3.20

Die plegtigheid van feëverhale

"Siembamba, mama se kindjie,
Siembamba, mama se kindjie
draai sy nek om, gooi hom in die sloot;
trap op sy kop dan is hy dood."

Het jy al gewonder hoekom daar vir babas oor doodmaak gesing word?

In die oudste weergawes is beide Rooikappie en haar ouma deur die wolf opgevreet. In ander weergawes los die wolf oorskot vleis van verorberde Ouma, wat Rooikappie eet en so onwetend haar eie vlees-en-bloed kannibaliseer. In party stories word Rooikappie beveel om haar klere uit te trek en in die bed te klim, en dan eers vreet die wolf haar op. In later stories het die houtkapper met geweld en 'n byl die wolf oop geslag. Feëverhale--regte feëverhale--is nie ligtevermaak nie; hulle is donker en geweldadig en plegtig.

Moenie met vreemdelinge praat nie; moenie vreemdes in jou huis toe laat nie; bly doelgerig; wanneer jy kantgeslaan raak ("getting sidetracked") kan dit erge gevolge hê;  jou nalatigheid en onverantwoordelikheid kan die mense na aan jou seermaak -- selfs hulle dood tot gevolg hê; die donkerwoud (donker buurt, donkersteugie) is gevaarlik; gehoorsaam jou ma (moenie die wet oortree nie); moenie alles glo wat iemand vir jou sê nie (moenie liggelowig - "gullible" - wees nie); jy't 'n verantwoordelikheid teenoor behoeftiges (sorg vir die oues en siekes); pasop vir seksuele-predatore; net omdat iemand vriendelik is, maak nie van hom minder 'n monster nie; dis beter om die monster (probleme) van die begin af hok te slaan, want om later die monster dood te maak vereis moeite en bloedvergieting (erge opoffering); wanneer jy opdinges, moet ander tot jou redding kom, net omdat jy eerder gaan blomme ruik het as om te flippen doen wat jy veronderstel was om te doen! Dié en vele ander is lesse van die "Rooikappie en die Wolf"-storie.

Net omdat iets 'n wiegeliedjie, kleuterrympie, 'n kinderstorie, 'n feëverhaal, 'n mite, skeppingsmitologie, of religieuse narratief is wat jy dink net fiksie is, maak nie dat dit nie gravitas het nie. Daar is waarde in al hierdie eeue ou verhale. Lewensbelangrike waarhede.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence