langsamerhand
gly my linkerhand
jou regter een verby:
ons pinkies
—fladderende vinkies—
ontmoet,
groet in vlug
en land weerskant
van ’n olyfboomtakkie:
op hierdie rakkie
en met been en vlees
word ’n nes geweef.
Hier sal ons droomblou
gespikkelde eiertjies
lou-lou uitbroei,
en om die beurt sal ons
die ruspes bring,
totdat ons drome
self kan sing.
... Sanko Lewis