Showing posts with label droefheid. Show all posts
Showing posts with label droefheid. Show all posts

28.9.25

Feste se lied

’n Vryvertaling van Feste se lied in William Shakespeare se Twelfth Night, Bedryf 4, Toneel 2.

Kom hierheen, kom hier, dood,
en laat my in smartlike sipres lê.
Vlieg weg, vlieg weg, asem:
ek is afgeslag deur ’n mooi-wreed vrou.
My wit doodskleed, oral om met yf gestik,
o, berei dit voor!
Want nimmer een het my porsie aan die dood
so trouhartig gedeel nie.

Nie ’n blom nie, geen soete blom
mag op my swart kis gestrooi word nie.
Nie ’n vriend nie, geen vriend begroet
my arme lyk waar my beendere gegooi word nie.
’n Duisend-duisend versugtings gegiet...
ag, laat my tog net lê, daar waar
hartseer opregte geliefdes nooit my graf mag vind
om daar te ween nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.4.16

Wat nag is

Die dag toe jy dood is 
slaan my hart 
die sonsondergang
'n bloukol. 
Ek verstaan nou
wat nag is. 


Al daai stories oor die aarde 
wat draai is bog. 
Dit is derduisende treurendes se harte 
wat met gebalde bitter vuiste 
dag na dag die hemel swart slaan— 
dít is wat nag is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence