Showing posts with label reën. Show all posts
Showing posts with label reën. Show all posts

17.2.21

Oor verborge dinge

Luister hoe die wind haar geheimenisse fluister
in die denne se bolle en tussen wilgers se takke
tussendeur die skrefie-oop venster, onderdeur
die agterdeur en in die plaashuisdak se balke.

Die son het per ongeluk nes ’n goudblad perkament
op die houtvloer geval, waarin in al haar verborge
dinge opgeskrywe staan—sy lê beskaamd en verweerbaar
vir almal om te sien. Maar niemand gewaar haar nie.

Óók in die reën se neurie is daar waarheid te verneem
en juistheid te ontsyfer vir die met ’n oor wat kan kyk
en ’n oog wat kan luister; elke vers en profesie,
soos met slot en grendel, het ’n openbaring en verklaring.

In die aarde, in die grond, tussen riwwe, kors en klont
lê versteekte dieper dinge uit die voortyd weggebêre
wat ook vir ons tyd iets te sê het, as jou vingerpunte
weet, en óók jou hart en óók jou gees, hóé om dit te lees.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.11.15

Die rooi kruiwa

’n Vryvertaling van William Carlos Williams se "The Red Wheelbarrow" -- ’n voorbeeld van die Imagisme-skool. 



soveel hang af
van

’n rooi krui-
wa

verglans met reën-
water

langs wit
hoenders.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.8.15

Reën

Hoor hoe die reën val

soos gebreekte harte op marmer vloere,
op stoepe en voorportale,
in restaurante, kombuise,
slaapkamers, badkamers, TV-kamers,
stadspleine, straathoeke,
in verre lande, en sommer hier
vlak neffens ons lê die stukke
fyn en flenters.

Sien die fragiel momente,
dié fragmente
wat ons liefde noem,
wat sommer só met 'n brief of SMS
of kortafwoord of kilkyk
frommel, kraak, krummel
en moed opgee.

Harte wat eens op 'n tyd
geklem het soos buldende vuiste:
nou vuisvoos en lam lê die verspilde organe
op vloere, op dakke, in agterplase,
onder brûe, in velde, trogge en slote,
op vullishope, in stegies, in plasse.

Voel hoe reën dit.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence