Showing posts with label geskenk. Show all posts
Showing posts with label geskenk. Show all posts

16.1.13

'n Geskenkie


in 'n blou kristalflessie
—blou soos 'n sneeu-uiliris—
het ek, met een vinnige nies,
my gees verpak, die bekkie
eers met my duim toegedruk
en toe met die silwerproppie
—versier met silwerblaartjies
en silwerbessies—verseël

'n gees, soos 'n geitjie, sterf maklik
so hou dit warm teen jou bors

maar op jou sterfbed les jou dors
en leef nóg 'n leeftyd onverganglik



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.10.12

as ek kon


'n Vertaling uit Engels van my gedig "A Love Proposal"


as ek
my hart soos 'n perske kon oes
dit uit my bors kon pluk
uit die hok kon steel
die aorta af kon bind soos 'n naelstring
dit kon afwas en toedraai in linne
dit met bies kon versterk teen die koue
en dit kon neerlê in 'n mandjie
versier met 'n groot strik—groot soos 'n hand;

as ek
dit voor jou deur kon los
dit vir jou soos 'n ring aan jou vinger kon gee
óf soos die lewensasem Adam ingeblaas
óf soos lente—opgekrul in die palm van God se hand
nes 'n baba krimpvarkie;

en as jy
dit sou aanvaar, dit sou inasem,
dit sou inneem soos soet perskes,
medepligtige sou wees aan die gevangenisontsnapping,
as jy jou bors sou bied vir bies en liefde,
jou borskas sou deel met 'n ekstra hart—om passievol
jou bloed te pomp;

as ek kon,
en as jy sou,
behoort my hart aan jou.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence