Showing posts with label kos. Show all posts
Showing posts with label kos. Show all posts

15.8.20

Afskeepbrak

nou ja, staar ma’ daarna,
sit dit dan onder die soeklig,
gewaar hoe my hart se punt
gerig is in jou rigting in
soos 'n kompas ewig noordwaarts,

soos 'n hond lojaal en getrou
volg dié ou hikkende klont
van my vir jou huiswaarts
en trap modderspore in die kombuis
waar ons woordloos aan tafel sit

en wye snye tuisgebakte brood
met botter dompel in reënweersop
en die hond snoep krummels op
wat van die tafel afval
soos in Christus se verhaal


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.10.14

Raison d’etre

Ek belê—glo dit of nie—in die digkuns:
maak kiste vol woorde bymekaar en kaste vol beelde
en kluise vol metafore en ryg op hangers honderde—
nee duisende—rympare en in houers prop ek klingelde klinkers
vir binnerym okkasies en ek maak plakboeke vol intertekstuele assosiasies
en emosies word versigtig volgens kwaliteit (pyn of plesier) 
en intensiteit (soensag of donnershard) 
en langdurigheid (oogwink flink of tot-die-dood-ons-skei)
gekategoriseer en ervarings word vernuftig alfabeties geïndekseer:

A vir aarbeie en room: onthou jy?
B vir borste en boude. Hoofsaaklik joune.
C vir cafés en cinq à sept, en so aan,
D tot Z.

My geliefde, pardon die cliché:
jy’s my vers se raison d’etre.

29.4.14

Die jagter kom tuis

Liefie! Liefie! ek is tuis!
Liefie kyk, ek's by die huis.
Ek het vir 'n bok gejag:
heeldag by die pan gewag.

Stook die vuur, ek slag solank;
vannag fees ons vir ure lank:
en vryf ons lywe blink met vet,
ten eindelaas ons heelnag pret!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.10.12

as ek kon


'n Vertaling uit Engels van my gedig "A Love Proposal"


as ek
my hart soos 'n perske kon oes
dit uit my bors kon pluk
uit die hok kon steel
die aorta af kon bind soos 'n naelstring
dit kon afwas en toedraai in linne
dit met bies kon versterk teen die koue
en dit kon neerlê in 'n mandjie
versier met 'n groot strik—groot soos 'n hand;

as ek
dit voor jou deur kon los
dit vir jou soos 'n ring aan jou vinger kon gee
óf soos die lewensasem Adam ingeblaas
óf soos lente—opgekrul in die palm van God se hand
nes 'n baba krimpvarkie;

en as jy
dit sou aanvaar, dit sou inasem,
dit sou inneem soos soet perskes,
medepligtige sou wees aan die gevangenisontsnapping,
as jy jou bors sou bied vir bies en liefde,
jou borskas sou deel met 'n ekstra hart—om passievol
jou bloed te pomp;

as ek kon,
en as jy sou,
behoort my hart aan jou.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.8.12

Korea -- 'n skets


Op rit in 'n bus
sit ek langs 'n suikerkluitjie ouma
wat strikke in haar doolhofhandsak
gestel het en 'n vet naartjie gevang het,
wat sy met haar knoloog hande afslag,
ontvel, en sonder simpatie in twee skeur,
en 'n lou warm halwe karkas in my
(die uitlander) se peervlees hande ploks.
Moko* sê sy en ek eet gehoorsaam. Ek eet
Korea se gasvryheid totdat my mond
oorloop van sojamelk en heuning.




* Moko 먹어 is 'n verbuiging van die Koreaanse werkwoord mokda 먹다, "om te eet".

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.7.12

Die versoeking


dit is laat
breek jou vas
jy lyk bleek
ek maak jou iets te eet
haal jou stralekrans af
trek jou toga uit
kom bed toe
dis okay
kom lê jou lyf
teen my




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.6.12

Plaas

2006

die land het bros geword
soos ou broodkors gemuf
lê nou oop     rou     skurf
soos 'n ou boervrou verwurg



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.12

soos lou heuning drup jy jou lang lyf
            oor my, giet jy jouself in warm sûe
                                         oor my lyne en my brûe



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.4.12

soos in iets Italiaans

2005/2006

Kom ons belê in mekaar vanaand
soos in iets Italiaans.
Proe lank aanmekaar se al dante,
ruik elke gekruide kruinkie,
spreek dan ons waardeuring uit –
máma miiiaaa! met oordrewe lyftaal
emosioneel        luidrigtig,
volkeel       vollyf.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.12.11

Ons lê mekaar ingelê

Ons lê mekaar ingelê
soos halwe perskes
in mekaar se stroop
ingedoop.

Ons blomme bestuif
mekaar se sawwe trogge
met los tonge.

Ons eet en ruik
en ruil ons asems uit.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.12.11

Raad 1

My kind,
jy ruik vars:

vars soos ’n pasgebore brood
soos ’n perskeboom waarop die sterre
laasnag neergedaal en watte geword het
soos bokspring kalwerliefde na die reën
wanneer haasbekkies om die kys vra

terwyl jy nog vars is
gryp hom vas, my kind,
hou die lewe grootvas met jou klein hande
staan wyd en grou jou stomptoontjies
soos bergbokkloutjies teen die krans

wurg hom, my kind,
wurg hom vir alles wat hy het

suig sy murg leeg
tot jy blink om die bek:

spekvet en gelukkig!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.12.11

Brood en botter

jou brandwarm borste
is varsgebakte brode
(ek het die deeg self geknie
met keurig gesifde woorde)

my vingers drup in jou nek
my palm smelt op jou heup
my vat olie jou lieste

vanaand is ons kieste vol
tuisgebakte brood
en vars geskudde botter



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.11.11

Naartjie / Clementine

Beminde,

Jou hande is gespesery met die naartjies
wat jy vanmiddag vir my afgeskil het—versigtig
om nie die klein warm fetusse te kneus nie.

Jy’t jare se oefening daarin,
want só het jy ook mý hart ontgin:
die kliphart vernuftig afgedop

tot jy uiteindelik my vleeshart—versigtig
soos ’n pasgebore bebloede baba—
in jou palms, nes ’n naartjie, genes het.


Beloved,

Your hands are spiced with the clementines
you peeled for me this afternoon—carefully
so not to bruise the warm little fetuses.

After all, you have years of practice,
for that’s how you broke open my heart:
skilfully skinned the heart of stone

until you delivered my heart of flesh—carefully
incubated the blood covered newborn
like a clementine in your palms.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.7.11

Toe jy verwagtend was

Ek wens ek was daar
toe jou maag volmaan rond
en vol lewe -- nuwe bloedjonklewe -- was
en jou borsies sappige geswolle
melkvrugte -- vrugte van die Boom van die Lewe -- was
en jou heupe oorlopens toe vol lewe was
en jy soos 'n amoeba te veel lewe gehad het
en twee lewens -- jy en 'n splinternuwe jy -- geword het.

Ek wens ek was daar
en dat ek daar saam met jou -- albei van jou -- gelewe het.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.5.11

Aarbeie en room

Beminde,
bring die aarbeie.

Die son borrel brons
op die horison.
Die duiwe in hulle gryspakke
brom huiswaarts.
Die katte maak los soos
loslyf atlete voor oefening.

Beminde,
ek bring room.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.4.11

Perskes

Op persketakke lê soos watte die voorvrugte.
Só, op my hart blom my liefde – onverdun.

My beminde, hou nie jou rooi hart gegrendel nie:
die hart is ’n papie wat eens nog moet vlerke kry,
wat oop moet maak soos biddende hande na gebed,
soos ’n lotus voor die son, soos twee pare lippe
vir mekaar, soos bene vir bekende heupe,
soos vriende se kaalpersoonlikhede.

Want in die laat winter bot die perskes
en deur die koue groei die liefde soos tienerborste.

My beminde, hou nie jou soet mond toe nie:
laat my tong soos ’n vinger jou snare stram,
jou perkussie plekke kielie, jou diep liefdesgrotte
maak eggo soos roepende katedraalklokke,
wat luidkeels ween oor die hoog gestookte liefde
en jou brandstapel waarop ek hartstogtelik verteer.

Hoogsomer dra die perskebome swaar aan vrugte
en loop die harte oor van bloed en liefde.

My beminde, vergeet nie die ou verhale nie:
van Adam (óf Romeo) wat deel aan die giftige perskes
en deel aan die lot, want die liefde se drif vrees nie
die dood nie, dit loop doelgerig die duisternis in –
braaf soos Christus, wánt, my beminde,
die slot van die dood bind nie die liefde nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.4.11

Koning

Jy bars oop soos ’n granaat
jou robyne is blink en ryp
jy laat my proe aan duursaamheid.

My hart verruk, my oog vergryp
my pik sluk een-vir-een edelsteen
ek verbeel my ek’s gekroon:

robyne om my staf
heuning in my keel
’n koningin wie by my woon.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.4.11

Neem en drink

kom, kom my koningin,
kom bestyg my troon,
kom bewoon my toring,

kom vul my leë ruimtes
soos die robyn van wyn
in die kom van kristal
as ons die liefde skink

kom     neem en drink



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.4.11

Sinergie

sekere dinge
is net
inherent
sinergeties:
grondboontjiebotter en stroop
appels en neute
neutmuskaat
kaneel
botterpampoen
room      arbei
ek & jy


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.4.11

Rondom middagete

jy broei my eiers in jou nes
ek bak jou appels in my palms
ons les ons lus met ingelegde lywe
jy hap my neutvrug
ek knibbel jou olywe
ons talm rondom middagete
gesout met sweet en met gewete
vlieg ons weg as duiwe



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence