Showing posts with label soen. Show all posts
Showing posts with label soen. Show all posts

18.9.19

soos waterverf

Jou vat aan my
kol my buitelyne
soos waterverf asof ek oplos
met die streel van jou vingers
oor my keel asof elke plek
waar jy proe en lek
vloei, gloei, verdamp—

skadu’s voor ’n lamp
fluisterwoorde
in die wind

soos onskuld
noodlottiglik verslind.

Hoeveel van my gaan oorbly
ná al jou kastyery?




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.9.14

Soenseisoen

Soen my net—soen my nou;
soen my op die sagteplekkie, broos en beskermend
soos 'n nuwe moeder 'n splinternuwe kind
waaraan die nattigheid nog klou;
of soen my op my voorkop soos 'n trots patriarg
wat 'n agter-agterkleinkind inhuldig; of gee my 'n heilige kus
soos 'n skepper wat lewe sy skepsel se neus binne blaas;
of plant jou tong wellustig en profaan my praatput in,
maak dat ek my woordesluk en aan jou soen verstik;
byt my nek met vampieriese dors; suig soos 'n onvergenoegde vul
aan my harige bors; lek die testosteroon aan my pektoraal,
proe my feromoon in die bedompige koelte van my armholte
en volg met jou tong die golwe van my ribbekas,
die kruise van my buik, die mik wat na my pubis lei,
my fallus en my bas; knibbel agter my knieknoppe en kuite
en tussen my tone asof jy 'n kewer is; kruwel mondeliks
oor elke plek wat deel van ek is, sodat ek gelyktydig
orgasties gril en liries gil—soen my net,
want daar is min dinge wat so seldsaamsoet
soos 'n soen is, eens die seisoen aangebreek het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.8.14

Speeksel-sentiment

Vanaand het ek my tandeborsel,
met sy hartseer verlepte kapsel,
in die asblik gegooi.

Sonder 'n tandeborsel van my eie
het ek my aan jou tandeborsel,
wat vir maande reeds soos 'n verlange
geplant staan in my badkamer, vergryp.
Sal jy bly wees om te verneem
dat dit nog in 'n goeie toestand is?
Die haartjies: tril-regop soos 'n wilde
territoriale diertjie wat spoeg en sis.

En hoekom dit nie gebruik nie?
Dis nie asof jy terug kom om
die vergete wees op te raap nie.

Hoeveel ander tandeborsels was teen
hierdie tyd nie reeds intiem met jou mond
soos my mond met jou mond was nie?
Hoeveel ander tandeborsels ken nie reeds
die groewe van jou verhemelte soos net die tong
van 'n geliefde die verhewe hemelte
van 'n geliefde se mond ken nie?

Hoekom dit nie gebruik nie?
Sal ek dan gril vir dit wat ek eens bemin het?
Was jou kieme en my kieme
nie op 'n tyd mekaar se geliefde kieme nie?

Ek verbeel my ek proe jou:
en skrop my tande en vleise,
binnewange en buise—
my erektiele tong krap ek
vol van jou eentydse atome
en ent myself homeopaties
met jou peperment essensies. 

Van môre af is dit my tandeborsel
en nie meer joune nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.3.13

Lentetyd


Liefling, dis lentetyd:
laat my aan jou lentebloeisels ruik,
aan jou blommeknoppies knibbel;
kom, nou is immers die geleentyd
om in pas met die seisoen te wees,
laat ons soen, versoen en gelukkig wees!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

30.9.12

The Heist

Dragonfly hovers, then lands upon your lips—a sealed lotus—
and with its soft touch picks the lock. Slug gently oils the hinges.
The bulb relaxes, slightly parts—just enough for Tadpole!
He slips in, slides through the corridor, locates your levers
and opens wide the gate. My mouth manoeuvres to the exit
as I patiently await your attempted escape.
When you exhale, I swallow your spirit in one ecstatic gulp.
With this kiss I seal you in me. Thus blackmailed,
you dip your tongue in my ink and sign on the dotted line.
The contract reads: I am yours; you are mine.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.9.12

Art of War


Fingers—the virile cavalry of my hands—graze
over the lush mountains of your calves, gain ground
over muscled thighs, sink and anchor in the bulged
lotus pedestal of your centred hips.

With your foundation so seized, victory is assured:
My lips need merely fingertip your heaving chest
or my tongue but scarcely wet the pulsing of your neck
and all your hesitant suspension collapses.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.9.12

Selfmoord se nota

'n Vryvertaling van Langston Hughes se "Suicide's Note".


Die kalm,
koel gesig van die rivier
het my vir 'n kus gevra.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.7.12

vanaand gaan ek

vanaand gaan ek
aan jou binnedy 
se vou saggies byt
totdat jy eina sê
daarna sal ek soentjies
op dieselfde plekkie lê
en môre by die werkplek
as jou voutjie 'n seerplek het
dink dan aan ons geheimpie
en gisteraand se byt- en soen-
en lekplek pret.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.5.12

ek sien 'n god (maar dit was jy)

'n Vry vertaling uit die slottoneel van “Philaster” (reëls 189-202) deur Beaumont & Fletcher (c. 1610). Aan die woord is Bellario/Eufrasia aan die edelman Philaster:

Terwyl ek in my vensterbank gesit het,
my gedagtes op die grasperk afgedruk,
dog ek ek sien 'n god (maar dit was jy)
wat ons poorte binnekom:

My bloed vlieg weg—vlieg terug,
asof ek dit uitgeblaas en terug gesuig het soos asem;
haastig is ek geroep
tot vermakingsberoep vir jou.

Nooit is 'n mens vanaf 'n herderstok tot 'n septer,
so hoog in denke opgehef as ek nie.

Jy laat 'n soen
 op hierdie lippe
(wat ek verewig jou wou weerhou het);
ek hoor jou praat,
dis vêr bo sang.

Toe jy weg is ontmoet
ek my hart vir die eerste maal,
en loots 'n ondersoek
wat dit só maak klop:

Gewis, ek het gevind,
dis liefde!



Source Text:
...till sitting in my window,
Printing my thoughts in Lawne, I saw a God
I thought (but it was you) enter our Gates,
My bloud flew out, and back again as fast
As I had puft it forth, and suck't it in
Like breath, then was I call'd away in hast
To entertain you. Never was a man
Heav'd from a Sheep-coat to a Scepter rais'd
So high in thoughts as I, you left a kiss
Upon these lips then, which I mean to keep
From you for ever, I did hear you talk
Far above singing; after you were gone,
I grew acquainted with my heart, and search'd
What stir'd it so, Alas I found it love...
                

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.5.11

Versoenery

laat ons nie te haastig wees
om die liefde totsiens te soen nie –
’n gesoenery is in elkgeval bedoel
vir versoenery en nie groetery nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence