Vanaand het ek my tandeborsel,
met sy hartseer verlepte kapsel,
in die asblik gegooi.
Sonder 'n tandeborsel van my eie
het ek my aan jou tandeborsel,
wat vir maande reeds soos 'n verlange
geplant staan in my badkamer, vergryp.
Sal jy bly wees om te verneem
dat dit nog in 'n goeie toestand is?
Die haartjies: tril-regop soos 'n wilde
territoriale diertjie wat spoeg en sis.
En hoekom dit nie gebruik nie?
Dis nie asof jy terug kom om
die vergete wees op te raap nie.
Hoeveel ander tandeborsels was teen
hierdie tyd nie reeds intiem met jou mond
soos my mond met jou mond was nie?
Hoeveel ander tandeborsels ken nie reeds
die groewe van jou verhemelte soos net die tong
van 'n geliefde die verhewe hemelte
van 'n geliefde se mond ken nie?
Hoekom dit nie gebruik nie?
Sal ek dan gril vir dit wat ek eens bemin het?
Was jou kieme en my kieme
nie op 'n tyd mekaar se geliefde kieme nie?
Ek verbeel my ek proe jou:
en skrop my tande en vleise,
binnewange en buise—
my erektiele tong krap ek
vol van jou eentydse atome
en ent myself homeopaties
met jou peperment essensies.
Van môre af is dit my tandeborsel
en nie meer joune nie.
... Sanko Lewis
No comments:
Post a Comment