Showing posts with label ouderdom. Show all posts
Showing posts with label ouderdom. Show all posts

29.9.17

Eindelaas

So potsierlik—tog!—die ouderdomspredikament
wat—aai!—so natuurlik van my hoop
en van my angs iets inherent onnatuurlik
konstrueer en konsterneer: die verskrilike vrees,
soos vir die donker tweederangs,
vir verkranklike ouderdomswanhoop.

Daar is niks daaraan te maak nie:
Geen manier vir hokaai en geen nut
aan bohaai nie. Nét, saamlag
met die gode oor dié bespotlikheid
dat eers toe ek die dood aanskou,
het ek met berou geweet wat die lewe is,
en skroom ek nou oor lewensdrome ongehits.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.9.12

Aan die maagde, om nie tyd te mors nie

'n Vry vertaling van Robert Herrick (1591–1674) se “To the Virgins, to make much of Time”.


Pluk roseknoppies wyl jy kans het,
Outa Tyd is aan die vliet:
Die blom wat tans 'n glimlag het
is môre dalk tot niet.

Die glorieryke lamp, die son,
hoe hoër hy in die hemel hang
hoe vinniger is sy resies om,
en vroeër is sy ondergang.

Die prille leeftyd is tog beter,
'wyl jeug en bloed nog warm is:
eens opgebruik, is alles slegter
wanneer die houer koulik is.

Wees nie skaam nie, benut jou tyd,
en terwyl jy kans het, loop en trou:
Want eens jou lewensbloei verstrek het
mag jy dalk vir altyd rou.
 

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.8.12

Korea -- 'n skets


Op rit in 'n bus
sit ek langs 'n suikerkluitjie ouma
wat strikke in haar doolhofhandsak
gestel het en 'n vet naartjie gevang het,
wat sy met haar knoloog hande afslag,
ontvel, en sonder simpatie in twee skeur,
en 'n lou warm halwe karkas in my
(die uitlander) se peervlees hande ploks.
Moko* sê sy en ek eet gehoorsaam. Ek eet
Korea se gasvryheid totdat my mond
oorloop van sojamelk en heuning.




* Moko 먹어 is 'n verbuiging van die Koreaanse werkwoord mokda 먹다, "om te eet".

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.6.12

Modderkoekies

2006

Eendag wanneer ons oud is
moet ons modderkoekies bak.
Ons skibberige hande sal weer
glibberig wees soos platannas.
Ons gekerfde gesigte sal weer
blos soos kleigeverfde inboorlinge.
Ons grasgryskoppe sal weereens
vrugbare aardes wees,
kleurig vol van kattekwaad
– nee – gemmerkattekalmte.

En as die agterdagson ons speletjies speen
sal ons nie ween nie, maar laaste lag –
’n Oumens is net eenmaal kind,
dóg was dit ons tweekeer goedgesind.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.12

op daardie dag

?op daardie dag wat kom:
wanneer ek my laaste gaap en sug sal gee,
en die lewensborrel wat reeds sedert geboorte
sy rit diep in my siel se oseaan begin het,
díe dag deur die oppervlakte breuk
en met 'n sagte prik die laaste onsie animasie
soos 'n baba-nies die niet in priem;
gaan jy daarwees om my brosbroodlippe
een laaste maal te groet, my gelynde koue voorkop
en yl graswit hare een laaste maal
met jou welbekende, welgeliefde hande
plat te vee, my ewigkykende oë
toe te vee, en my stokkerige hande
vas te hou totdat die lou koud is,
gaan jy daar wees
:op daardie dag wat kom?


 ... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.9.11

Sien die oumense

Sien die oumense.
Hulle vaal gesigte deur tyd en arbeid geërodeer;
die blossende jeug, eens wulps soos faanramme,
is afgeskilfer; in roesvlekke slaan hulle velle uit;
yl lê die donsdunhare op kuikennaakkoppe.

Verbeel jou onder al die lae klere (noodgedwonge
om die slakslymsirkulasie van stol te hoed),
daardie aardige (want aarde is jy en aarde word jy weer)
verlepte oumenslywe      oumensvleise tot leer gelooi
deur die lewe      deur die gejaag na lewe – alles tevergeefs.

Die dood kom. Daar is geen haas aan haar nie.
Haar skrede trap voetjie-vir-voetjie steeds verbete
sonder enkele misstap sonder enige swik of swenk
soos ’n getroue os op die ploegland kom die dood.

Ook God sien die oumens en skud sy kop.
Nie in afkeur nie, maar in medelye...
Nee, stellig nie medelye nie! Wat weet God van oud word af?
Maar God, meer as enige toeskouer, sien altyd die tragedie raak:
Die verkrimpte pasgebore baba – asem in – snel deur nuuskurigheid,
jagsheid,verantwoordelikheid en verkrimpte oudheid – asem uit –
soos ’n blom.

Luister na die oumensstem. Die lewensvuur, wat op ’n tyd
hoog gestook was in ’n oomblik van orgastiese soetseks,
het afgewaan tot klam bewende loute – kabbelend soos urinering.
Ja selfs in die pis hoor jy dit. Die blaas het geen meer ambisie nie.
Die sluise is lam en sonder waterdruk.

Die ergste is die oë: juwele wat in dowwe spoelklippe verander het.
Dis die verlange in die oë wat die ergste is; die wete, die gedwonge
erkenning dat die olie klaar is, die wik opgebrand is,
selfs die lantern bros is. Ongeag die veggees, die neerlaag,
die neerlê, is onvermeidelik. Sy het gewen. Sy wen altyd.

Maar God bejammer sy verkrimpte kinders nie,
want God weet dat die lewe ’n ruspe en die dood ’n papie is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.7.11

Ou Liefde

My hart is verkrompte oumanshande
wat jou verrimpelde ouvrouhande vashou.
Ons hande klop.

7.7.11

Gewo(o)n(t)e Liefde

Ons hou plomp mekaar
se lawwe vleise vas –
ons papgesitte boude
jou ongestutte borste
my lamsakkige balsak
en hangpeulpiel.

Ek staan jou by –
be-dek skaamteloos
jou skaamte
tot ons lywe bloos
en ons harte broos is.

Ons hou mekaar vas,
omdat ons pitte
in mekaar se velle
soos litte pas.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence