19.5.14

Bekyk die man, op hierdie Sondagmiddag

Hy sit uitgestrek in sy glashalfleeg-dertigs in sy slaapbroek
op die sofa in sy sitkamer. Op 'n kitaar stram hy 'n paar minneurakkoorde,
en bedink melodieë en beeldryke woorde oor migrerende ganse,
en tweede kanse.

Hy lees 'n boek en vryf vertroetelend oor die pels van sy ondermaag—
lankal nie meer die gladde branderplankpens van sy universiteitsdae nie.
Vandag bly hy net so. Net só, ongestort in sy pajamas op die sofa
met 'n koppie tee en 'n boek en 'n kitaar wat naby lê, bekvol ongeborselde
tande, kopvol ongeklede gedagtes, hartvol waarvan die mond van oorloop.

Sy testes jeuk van hernude bedrywigheid
en puls vry in sy skrotum wat hy onbewustelik krap
soos 'n kat 'n krieweling agter die oor. Langs hom op die vloer
lê tissues, nat en taai met kondensmelk. Ondanks die rooibostee
wat reeds koud is, lyk hy genoeë en sien hoe die laatmiddag son
deur die agtervenster tussendeur wildegansgroen blare vir hom koekeloer.
Hulle kyk diep in mekaar se oë. Die man glimlag en knipoog.
Skaam duik die son sy kop agter die muurtjie weg.
Die man lag hardop oor hy die blosende vrykyker so betrap het.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence