Showing posts with label tronk. Show all posts
Showing posts with label tronk. Show all posts

20.7.16

Vrygebore




Hulle—die wat oor dinge opinies het—sê
dat ek is vrygebore, dat die hele wêreld
is my beskore, dat ek hoog op die skouers
van my ouers staan.

Maar staan dié dan nie hoog
op die skote van hulle grootmoeders
en op die skofte van hulle voorvaders nie?
En is hulle dan nie sedert Kain en Abel
geplant tussen lyke en gevloed
in bloedvergieting nie?

Glo is ek vrygebore,
asof daar nie ’n naelstring
is wat my aan my voorsate bind nie,
asof die testosteroon van my vader
nie ook deur my sweetgate wind nie,
asof die konsentrasiekampe waarin
oumagrootjie meel en glás geëet het,
en die lokasies waarin ons geliefde
bediende meel en rás geëet het,
nie ook mý geskiedenis is nie,
nie ook mý gevangenis is nie.

Hulle wat oor dinge opinies het,
sê ek is voëlvry gebore;
asof kinders nie tronkvoëls
van hulle ouers se verledes is nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.10.12

Tronkvoël se wraak

Met verwysings na William Blake se "How sweet I roam'd from field to field" en Maya Angelou se "I Know Why the Caged Bird Sings".



jy verf jou mure hemelblou
en vang my met 'n net
jy tronk my in 'n voël se kou
en hang my bo jou bed

deur die tralies steek jy stokkies
jy skeer met my die gek
hoeveel ander is in hokkies
versteek in jou woonplek?

jy voer my kamma-liefdetjies
winkoog en blaas soene
'n man soek meer as krummeltjies
leegdop visioene

'n gehokte voël kan óók fluit
'n klaaglied is óók mooi
'n tronkvoël sing oor vryheid
en oor predator en prooi

eendag is eendag en ek is vry
ek weet tog waar jy bly
ek gaan jou aan die keel beet kry
jou koue hart uit sny



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence