Showing posts with label vuur. Show all posts
Showing posts with label vuur. Show all posts

24.9.18

’n Ode aan hout

hoor hoe skree die bome
in takke hemelwaarts uitgeskiet
en wortels hades toe weggeskiet

hoor hoe die hordes roep
die woude se klaaglied uitgegiet
in hout en splinter en verdriet

hoor hoe brand die takke
hoor die kolkende rook en roet:
plank en brandhout, hoor my groet—

dankie


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.10.16

Groen gras en rooi grond

My slapende geliefde
se koue beendere
is ’n kaggel waarby
nostalgiese gedagtes
soos winterskinders
kaalvoet sit
en probeer
vingers&tone
warm maak.

Eendag sal ek nog
my verdorde geliefde
se tuin besoek,
’n bos blou tulpe bring,
en daar op die gras
kaalvoet sit,
met pen&pampier,
en met kitaar,
dat daai mooi
komposisie
wat ons lank, lank
gelede begin het,
klaar kan kom
om só ons liefde
op te som.

Wanneer ek klaar is,
met ’n son en maan
wat treur en taan,
sal ek pens&pooitjies lê
en die deuntjie neurie
die groen gras
en rooi grond in,
sodat haar koue klei
kan resoneer,
kan vibreer,
en dalk, miskien
weer vlam kan vat
en dalk, miskien
ons nog ’n keer
soos toentertyd
saam kan sing
en kan jolyt!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.2.14

Ongetiteld

2005/2006


ín jou vuurmaakplek
wryf ek my stokkie tot jou warmmaakblokkie
senuweekooltjies spat

ons blaas
ons blaas tot die vonkies vlamvat
stook die kaggel hoog
met drifhout en met drang

totdat jy die brandklok lui

en ek met brandweerslang
                     die vure blus
      jou wellusblom nat lei

gewis: bó ons vuurmaakplek is die liefde nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.13

Die pyn van liefde

'n Vryvertaling van 'n ou anonieme Kwakwaka'wakw gedig. 


Vuur stormloop deur my lyf met die pyn wat dit is om jou lief te hê;
pyn stormloop deur my lyf met die vuur van my liefde vir jou;
siekte loop sirkels in my lyf met my liefde vir jou;
pyn soos 'n blaas wat wil oopbars met my liefde vir jou—

Ek onthou steeds wat jy vir my gesê het.
Ek dink aan jou liefde vir my.
Ek word verskeur deur jou liefde vir my.

Waar gaan jy heen my geliefde?
Ek hoor jy gaan weg hiervandaan.
Ek hoor jy gaan my hier agter laat.

My lyf is verlam van verdriet.
Onthou wat ek vir jou gesê het, my lief.
Tot weersiens, my lief, totsiens—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence