Showing posts with label vadersfiguur. Show all posts
Showing posts with label vadersfiguur. Show all posts

10.11.11

'n Selfversekerde man en 'n tingerige seun

Alternatiewe titel: 'n Liefdesgedig aan myself

In die verlede was ek verlief
op ’n selfversekerde man uit die toekoms
wat soms, op wintersaande,
sy duvet vir my oop gegooi het,
dat ons aksieflieks kon kyk
vol gewere en ontploffings.

In die hede is ek verlief
op ’n tingerige seun uit die verlede
wat soms, op koue wintersaande,
langs my in my bed kom lê
en vir my ware stories sê:
vol trane en opofferings.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.10.11

Eendag as ek groot is

Eendag as ek groot is
gaan ek 'n groot man wees
met sulke growwe baard en groot spiere wat blink
en sulke kwaai stem soos 'n waghond wat WOEF-WOEF!
en dik vingers op my groot-oom hande
SO groot nes my hele gesig, so groot,
en ek gaan steeeerk wees,
die sterkerste man ooit!

Maar nou is ek nog 'n kind—
Pa sê ek's 'n sissie.

Eendag gaan ek groter as Pa wees
en dan, as ek soooo groot is,
gaan ek nie met hom speel nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence