Showing posts with label skryfkuns. Show all posts
Showing posts with label skryfkuns. Show all posts

14.5.23

Besing alles—alom

“Self,” beveel ek, “besiel ’n vers: blaas oor woorde

en laat dit leef, laat dit uit die niet uit opskiet

soos woestynblomme; laat dit vraatsugtiglik gaap

soos veerlose kuikens wat vetsugtig lus het vir wurms

en die grote ope wye hemel; laat dit van die blad af spring

soos sebravullens ná ’n donderbui: swart streep letters

klop-klop galop oor wit papier.
Luister, Siel, krabbel dit of tik dit of duim ’n feestelike vers

vir als wat leef—en ooit geleef het—

’n inspirerende ode aan woorde en moontlikhede. 

Want wie’s te wete of die son

nie dalk oomblikke terug geblus is nie? 

Dus, verderflike mens, voor die koue duisternis kom, 

besing alles—alom.”


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.5.16

Verdig

ek verlang na my gedigte
die kroos van my kieste
van my en my muse
se mistiese lieste

om te dig

om jou lewe sodanig in te rig
dat woorde heilig is
soos geboorte heilig is

is ’n roeping

ek mis my gedigte
die woorde wat in my borskas
se broeikas lank gekweek het
tot my hart se dop klop-klop
oopgebars het met die pynlike euforie
wat slegs ’n moeder (en ’n digter) ken

ek bied jou ’n penning en ’n stuiwer
(die ganse salaris van ’n skrywer)
sê my nou in watter ander mond
en watter ander bekken
loop my poësieë rond
en ledemate rekken

           Liefste Muse,

           ek dink ek het die grot gevind
           waar ons drome oorwinter het:
           ek let tekens van kinderpret
           en rotsprente met twee vrolike figure
           en daar hang nog binnemonds ’n reuk
           van hoop uitgelek deur onskuldige kliere

           maar Lief ek vermoed die ergste:
           ek bespeur óók op die grond
           ’n worsteling en bloed en in die lug
           se onskuldsoet proe ek nóg
           ’n geur gevleg—’n onheilige geveg:
           nie soos die dood nie
           maar soos die gevorseerde

           stilte

           van onderdrukte
           ongedrukte
           van verdrukte
           woorde

           ek verlang na ons gedigte





... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.10.13

'n Poësie-les

Ons is tans besig met die skryf van gedigte in die skryfkunsklas wat ek aanbied. Die opdrag vir vandag se klas was om 'n gedig te skryf na aanleiding van die tema "Beautiful Death". Gedurende 'n breinskrum het twee woorde navore gekom, "sacred" na aanleiding van "beautiful" en "tragic" na aanleiding van "death".

My wenke vir die skryf van gedigte sluit in om abstrakte stellinge (soos "sacred" en "tragic") konkreet te maak deur die gebruik van beelde en metafore, en om met gevoel te kommunikeer.

"Give me concrete examples of something sacred and of something tragic," vra ek.

"A mother's love," antwoord een student.

"Good. Now give me an example of something tragic."

"Cancer," antwoord 'n ander student.

"That's a good image: a mother's heartache over her child dying of cancer. However, cancer is still very abstract--how can we make it even more emotive? How can we make a more visceral image?"

In plaas daarvan dat die studente met meer konkrete beelde en metafore vorendag kom, gee hulle net meer sinonieme vir pyn en ongemak. Een student stel tandpyn voor. "Tooth ache is as terrible as cancer?" vra ek retories.

Uiteindelik besluit ek om self beelde te skryf as voorbeeld van hoe om die tragedie van 'n kind wat aan kanker sterf en 'n moeder se verdriet te illustreer. "Cancer can be personified as a monster of some kind," is my voorstel, "some terrible creature ripping apart a child -- and imagine the mother helpless to protect her child against such a monster."

Hier volg my kort gediggie.

Cancer

A hyena
      eating a child from the inside out
A mother
      cradling an inverted corpse

Hulle huiswerk vir volgende week se klas is om 'n vers te skryf oor die tema "Triumph / Victory". My instruksie aan hulle was dat die gedig op 'n pertinente wyse die gevoel van triomfantlikheid moet kommunikeer, soos my gedig hierbo die afgryslikheid van 'n kind wat aan kanker sterf kommunikeer.

Waarom maak jy dit nie ook 'n persoonlike uitdaging nie? Skryf 'n gedig oor "triomf", en as jy konstruktiewe terugvoer wil hê, deel dit gerus met my.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.3.12

Wenke vir die skryf van poësie

Ek het verlede jaar 'n seminaar gegee in die skryf van poësie. Hier is drie (en 'n bietjie) van my hoofwenke:

  • Maak abstrakte stellinge konkreet en konkrete stellinge interesant (deur die gebruik van beelde en simbole -- vergelykings en metafore).
  • Kommunikeer gevoel, maar vermy sentiment en clichés.
  • Vermy (eind-)rym, tensy die gedig dit vereis. (Betekenisvolle binnerym skep 'eenheid' in die gedig en is wenslik. Daarinteen laat gedwonge eindrym die gedig na 'n 'rympie' lyk -- definitief onwenslik!)

Lekker skryf!

... Sanko Lewis Creative Commons Licence