Showing posts with label tyd. Show all posts
Showing posts with label tyd. Show all posts

13.11.19

Digterlike nostalgie

daar was ’n tyd wat mense nog
met geheiligde woorde bekoor het
soos verleidende muses in bosse

daar was ’n tyd, lank lank gelede
toe troebadoere nog gestaan het
onder balkonne en onder mane

daar was ’n tyd wat betoorde
metafore my mond uitgeval het
soos Alexandrië se brons perkamente

waar is daai tyd waar elke sin
konnotatiewe waarheid het
en elke klankgreep binne-in dringe?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.2.14

Weer

Tussen 'n menigde merk ek
hoe ek gemerk is,
uitverkies is tussen mans en vrouens
en broers en susters en kinders,
tussen vriend en vyand,
tussen bekendes en vreemdes;
hoe jy my herken, úítken
asof ons mekaar in vorige lewens
menigmaal geken het.

En sou ek in sulke dinge glo,
dan stem ek in: kom ons verken mekaar,
kom ons reïnkarneer en ontdek mekaar
van vooraf weer en bemin mekaar nog 'n keer:
een lewe om mekaar in lief te hê,
my geliefde, is vééls te min—



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.9.12

Aan die maagde, om nie tyd te mors nie

'n Vry vertaling van Robert Herrick (1591–1674) se “To the Virgins, to make much of Time”.


Pluk roseknoppies wyl jy kans het,
Outa Tyd is aan die vliet:
Die blom wat tans 'n glimlag het
is môre dalk tot niet.

Die glorieryke lamp, die son,
hoe hoër hy in die hemel hang
hoe vinniger is sy resies om,
en vroeër is sy ondergang.

Die prille leeftyd is tog beter,
'wyl jeug en bloed nog warm is:
eens opgebruik, is alles slegter
wanneer die houer koulik is.

Wees nie skaam nie, benut jou tyd,
en terwyl jy kans het, loop en trou:
Want eens jou lewensbloei verstrek het
mag jy dalk vir altyd rou.
 

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence