Showing posts with label slagoffer. Show all posts
Showing posts with label slagoffer. Show all posts

18.3.23

karakter bou is nie vir kleinseuriges nie

Met domlomp vingers
kerf ek my karakter uit akkerhout,
met stomstomp kloue
klou ek verbete aan die wiegeliedjies
en kampvuurstories van my voorouers
wat in hul beurt ook bouers van karakters was:

ook verkragters en veroweraars was
en slawemeesters en geweldenaars;
óók slagoffers was, verwilderde
vlugtelinge was, slawe en verslaafdes,
en gekruisigdes:

ons moet ons voorsate se stories ken,
laat ons ons voorgeslagte se vergete mites
verken soos avontuurlustiges: die weeldigste
motiewe skuil in muwwerige grotdonker dieptes
waar die bedraaktes grommig is.

kyk broers: ’n penmeester kan óók eelte
op sy hande en blase op sy vingers hê;
neem notisie susters: sien al die stapels
wat met bloed-ink geskribbe is,
gewaar die opgetekende aanklagte
van ongeregtighede en onregverdighede:
teen julle my moeders en susters en dogters,
maar kyk nie die oumans se brûe rûe mis nie—
met geboë hoofde dra hulle generasies op hul skofte,
en kyk nie die jonges se wellustige avontuurlus mis nie.

Dankie moeder en vader en moeder se moeder en vader se vader,
en vroumens en mansmens en vroumansmens en mansvroumens
en mansmans en vrouensvrou: vir almal is daar ’n avontuur
en ’n draak en ’n karakter om te kerf uit hout:

karakter bou is nie vir kleinseuriges nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence