Showing posts with label sonet. Show all posts
Showing posts with label sonet. Show all posts

18.9.19

soos waterverf

Jou vat aan my
kol my buitelyne
soos waterverf asof ek oplos
met die streel van jou vingers
oor my keel asof elke plek
waar jy proe en lek
vloei, gloei, verdamp—

skadu’s voor ’n lamp
fluisterwoorde
in die wind

soos onskuld
noodlottiglik verslind.

Hoeveel van my gaan oorbly
ná al jou kastyery?




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.8.13

Onkundige sonnet

ek weet nie hoe vrouens se koppe werk nie
of mans se koppe of kinders s'n nie
ek weet nie eens hoe myne werk nie:
hoe die sappies veronderstel is om te prut
en die vonkies veronderstel is om te spat
en al daardie draadjies en takkies en padjies
maak dat ek kan dink en misdink nie

ek verstaan nie die lewe se meganismes nie:
die kleppe en pype en buise en ratte nie
en hoe alles roteer en inmekaar pas nie

en, ag fok, die liefde verstaan ek regtig nie:
hoe 'n katmens 'n hondmens lief kan hê
of 'n ingenieur 'n digter inspireer nie

halfpad deur my lewe en ek verstaan nie eens 'n sonnet nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence