Showing posts with label lewe. Show all posts
Showing posts with label lewe. Show all posts

29.9.17

Eindelaas

So potsierlik—tog!—die ouderdomspredikament
wat—aai!—so natuurlik van my hoop
en van my angs iets inherent onnatuurlik
konstrueer en konsterneer: die verskrilike vrees,
soos vir die donker tweederangs,
vir verkranklike ouderdomswanhoop.

Daar is niks daaraan te maak nie:
Geen manier vir hokaai en geen nut
aan bohaai nie. Nét, saamlag
met die gode oor dié bespotlikheid
dat eers toe ek die dood aanskou,
het ek met berou geweet wat die lewe is,
en skroom ek nou oor lewensdrome ongehits.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.9.13

ons loop trots

Hierdie voetslaanpad is nie geplafei nie,
die duike is nie opgevul en die hewels nie plat gefyl nie:
inderdaad, dié pad is nie vir 'n koning voorberei nie,
dis 'n wandelpad: vir diere en gepeupel,
vir gewone hardwerkende gewemel, soos ons—

maar my liefling, fok die koninklikes: ons loop die pad
met ons eie voete—ons trap ons lewens oop, tree vir fokken
tree, self: as ek val help jy my op, as jy moeg is abba ek jou
en af en toe rus ons teen 'n skurwe krans en skep
ons asems met bakhande uit 'n spruit tot lafenis—

ons loop die pad begrafnis toe self: elke oopgebarsde blaas,
elke rou gevalde knie, elke litteken, elke blek, elke traan
is 'n merk dat ons geleef het—dra jou medaljes soos 'n veteraan:
trots en voorbarig! want, my vriend, dit is welverdiend.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.8.13

Onkundige sonnet

ek weet nie hoe vrouens se koppe werk nie
of mans se koppe of kinders s'n nie
ek weet nie eens hoe myne werk nie:
hoe die sappies veronderstel is om te prut
en die vonkies veronderstel is om te spat
en al daardie draadjies en takkies en padjies
maak dat ek kan dink en misdink nie

ek verstaan nie die lewe se meganismes nie:
die kleppe en pype en buise en ratte nie
en hoe alles roteer en inmekaar pas nie

en, ag fok, die liefde verstaan ek regtig nie:
hoe 'n katmens 'n hondmens lief kan hê
of 'n ingenieur 'n digter inspireer nie

halfpad deur my lewe en ek verstaan nie eens 'n sonnet nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.6.13

só mooi

jy is vir my baie mooi
mooi soos geboorte
soos die geboorte
van slymvars verimpelde mensies
wat soos paddavissies hul naelstringe
soos stertjies afgooi—nat agter hulle voetoortjies
en nat onder hul oorvoetjies—vreeslik
mooi is jy soos die dood van 'n verimpelde
oumensie wat 'n vol lewe vol verdrukkende
hartseer en slymvarsgeluk—bietjies-bietjies
gewis soos brood en water—gehad het
en met 'n diep sug      die gees gee      en rus—
só, so mooi is jy vir my.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.1.13

'n Geskenkie


in 'n blou kristalflessie
—blou soos 'n sneeu-uiliris—
het ek, met een vinnige nies,
my gees verpak, die bekkie
eers met my duim toegedruk
en toe met die silwerproppie
—versier met silwerblaartjies
en silwerbessies—verseël

'n gees, soos 'n geitjie, sterf maklik
so hou dit warm teen jou bors

maar op jou sterfbed les jou dors
en leef nóg 'n leeftyd onverganglik



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.9.12

Aan die maagde, om nie tyd te mors nie

'n Vry vertaling van Robert Herrick (1591–1674) se “To the Virgins, to make much of Time”.


Pluk roseknoppies wyl jy kans het,
Outa Tyd is aan die vliet:
Die blom wat tans 'n glimlag het
is môre dalk tot niet.

Die glorieryke lamp, die son,
hoe hoër hy in die hemel hang
hoe vinniger is sy resies om,
en vroeër is sy ondergang.

Die prille leeftyd is tog beter,
'wyl jeug en bloed nog warm is:
eens opgebruik, is alles slegter
wanneer die houer koulik is.

Wees nie skaam nie, benut jou tyd,
en terwyl jy kans het, loop en trou:
Want eens jou lewensbloei verstrek het
mag jy dalk vir altyd rou.
 

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.5.12

bekyk die losvoet, stywerug, grootkop peuter:
só, met sulke losbandige tree, tree 'n mens
mos die lewe met vooroor momentum binne

soos 'n duiker wat oorgee aan swaartekrag
soos 'n tiener wat oorgee aan wellus
soos 'n afgeleefde wat oorgee aan die dood

só, dis hoe 'n mens moet leef met die oorgawe
wat die lewe verdien, sonder om weg te skrum
vir die onvermeidelike skrotumpyn daarin—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence


Image Source

17.12.11

Raad 1

My kind,
jy ruik vars:

vars soos ’n pasgebore brood
soos ’n perskeboom waarop die sterre
laasnag neergedaal en watte geword het
soos bokspring kalwerliefde na die reën
wanneer haasbekkies om die kys vra

terwyl jy nog vars is
gryp hom vas, my kind,
hou die lewe grootvas met jou klein hande
staan wyd en grou jou stomptoontjies
soos bergbokkloutjies teen die krans

wurg hom, my kind,
wurg hom vir alles wat hy het

suig sy murg leeg
tot jy blink om die bek:

spekvet en gelukkig!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.9.11

Sien die oumense

Sien die oumense.
Hulle vaal gesigte deur tyd en arbeid geërodeer;
die blossende jeug, eens wulps soos faanramme,
is afgeskilfer; in roesvlekke slaan hulle velle uit;
yl lê die donsdunhare op kuikennaakkoppe.

Verbeel jou onder al die lae klere (noodgedwonge
om die slakslymsirkulasie van stol te hoed),
daardie aardige (want aarde is jy en aarde word jy weer)
verlepte oumenslywe      oumensvleise tot leer gelooi
deur die lewe      deur die gejaag na lewe – alles tevergeefs.

Die dood kom. Daar is geen haas aan haar nie.
Haar skrede trap voetjie-vir-voetjie steeds verbete
sonder enkele misstap sonder enige swik of swenk
soos ’n getroue os op die ploegland kom die dood.

Ook God sien die oumens en skud sy kop.
Nie in afkeur nie, maar in medelye...
Nee, stellig nie medelye nie! Wat weet God van oud word af?
Maar God, meer as enige toeskouer, sien altyd die tragedie raak:
Die verkrimpte pasgebore baba – asem in – snel deur nuuskurigheid,
jagsheid,verantwoordelikheid en verkrimpte oudheid – asem uit –
soos ’n blom.

Luister na die oumensstem. Die lewensvuur, wat op ’n tyd
hoog gestook was in ’n oomblik van orgastiese soetseks,
het afgewaan tot klam bewende loute – kabbelend soos urinering.
Ja selfs in die pis hoor jy dit. Die blaas het geen meer ambisie nie.
Die sluise is lam en sonder waterdruk.

Die ergste is die oë: juwele wat in dowwe spoelklippe verander het.
Dis die verlange in die oë wat die ergste is; die wete, die gedwonge
erkenning dat die olie klaar is, die wik opgebrand is,
selfs die lantern bros is. Ongeag die veggees, die neerlaag,
die neerlê, is onvermeidelik. Sy het gewen. Sy wen altyd.

Maar God bejammer sy verkrimpte kinders nie,
want God weet dat die lewe ’n ruspe en die dood ’n papie is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.7.11

Toe jy verwagtend was

Ek wens ek was daar
toe jou maag volmaan rond
en vol lewe -- nuwe bloedjonklewe -- was
en jou borsies sappige geswolle
melkvrugte -- vrugte van die Boom van die Lewe -- was
en jou heupe oorlopens toe vol lewe was
en jy soos 'n amoeba te veel lewe gehad het
en twee lewens -- jy en 'n splinternuwe jy -- geword het.

Ek wens ek was daar
en dat ek daar saam met jou -- albei van jou -- gelewe het.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence