Showing posts with label eensaamheid. Show all posts
Showing posts with label eensaamheid. Show all posts

29.9.24

Laat my hier alleen

“Laat my hier alleen”
(’n Vryvertaling van Francesca Caccini se aria ‘Lasciatemi Qui Solo’ uit die 17de eeu.)
Laat my hier alleen:
keer terug, voëls, na jul neste
terwyl my siel en my verdriet
helaas op hierdie kus uitadem.
Ek wil niemand by my hê nie,
behalwe ’n koue klip
en my noodlottige smart.
Laat my sterf.
Soetste sirenes,
wat met jammerhartige lied
my pyn versag—
swem elders heen!
Roep die golwe weg
met hulle wrede veragtings en gramskap.
Laat my sterf.
Kalmste winde,
keer terug na jul grotte.
Ek vra slegs my harde klaagliedere
om by my te talm:
ek roep nie vir julle sugte nie.
Alleen verlang ek
dat my sielepyn eindig.
Laat my sterf.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.9.16

Wilde Ganse

’n Vryvertaling van Mary Oliver se gedig “Wild Geese

Jy hoef nie goed te wees nie.
Jy hoef nie op jou knieë te loop
vir ’n honderd kilometer en berou nie.
Jy hoef slegs die sagte dier van jou liggaam
toe te laat om waarvoor dit lief is, lief te wees.
Vertel vir my van wanhoop, jóúne, en ek sal mýne belei.
Intussen gaan die wêreld aan.
Intussen beweeg die son en die duidelike klippies van die reën
steeds oor die landskappe heen,
oor die grasvlaktes en die diep bome,
die berge en die riviere.
Intussen is die wilde ganse, hoog in die skoon blou lug,
weer oppad huistoe.
Wie ookal jy is, ongeag hoe eensaam,
die wêreld bied ditself aan jou verbeelding,
roep na jou soos wilde ganse, skril en opgewonde—
kondig oor-en-oor jou plek
in die familie-van-alles aan.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.5.16

Die groot boom

Die groot boom in die veld
staan hoog soos ’n generaal
en staar oor die groot Transvaal.

Die groot boom se wortels
grou diep, en grawe sterk
die landstreek onder uitgestrek.

Die groot boom staan op sy tone
en waai sy takke ’n koepel wyd:
hy adverteer sy eensaamheid.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.2.15

Alleenheid is ’n koue plek

Ek knip my oë en jy is weg
en sedertdien is niks meer reg nie;
niks wat ek sien het fokus nie;
geen woord is my mond se kneg nie.

Verwilderd soek ek heinde
en verward roep ek verre,
maar jy antwoord nie,
en my benoude siel het geen rus nie.

Die berge bulder,
maar bied g’n hulp nie;
my gille is uitasem en eggo
klankloos teen die kranse.

My beangste gedagtes is ganse in vlug;
my ganse gedagtes vlug na die somerplek
waarheen jy (bid ek) getrek het.
Ek bibber. Alleenheid is ’n koue plek.

Kyk, ek stuur vir jou ’n swerm vere:
pluk ’n pen my geveerde geliefde
en skryf vir my ’n gedig op ’n poskaart
met jou portret daarop geverf,

sodat ek my nagdrome ’n idee kan gee
waaroor om te dagdroom.
Ek trek ons herinneringe oor my
soos ’n blou trui.

Ek het my oë geknip en toe’s jy weg
en sedertdien is niks meer reg nie.
Ek draai my bewende blou rug,
en wens jou met elke rotasie t'rug.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.11.13

gun g'n

Jy draai jouself op my soos 'n rug
soos 'n koue skouer gun jy my g'n
huilplek nie, g'n troosplek teen jou bors nie.

Jy lees my e-posse, kyk na my tekse
maar gun g'n repliek nie, wys geen verlange
of verdriet nie.

Het jy my dan nie op 'n tyd lief gehad nie?
Of het ek jou koulikheid misgis vir oulikheid?
My mistake.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence