27.2.14

The Universe Spins -- my studente se gedigte



Verlede semester het ek 'n skryfkunsklas aangebied. As deel van hulle finale punt moes my studente 'n skryfportefeulje inhandig met twee kortverhale en vyf gedigte. Uit hierdie gedigte het ek die bestes gekies en tydens my onlangse vakansie geredigeer tot 'n digbundel. Die digbundel is uiteindelik vandag gepubliseer as 'n e-boek. Jy kan The Universe Spins gratis aflaai by Smashwords.Com in 'n formaat van jou keuse.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.2.14

Herhalingsmisdadiger

2005/2006


’n herhalingsmisdadiger: vang jy my uit
as my oë die jardste keer jou clevage lek
en ek doofstomdomdwaasgek opkyk

stotterend verklaar ek; gee ek toe; gee ek mee–
ek’s skuldig
skuldig soos die see

ewe halsoorkopbommelakisiekopstampdolverlief
verlief soos bronstige branders vir rotse
só is ek verlief op jou      en op jou borste.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.2.14

groenweivelde

2005/2006


In die trippel van jou lippe
wat soos wolklammers
oor die blou-oog van die hemel drawwe,
les my lentestogte, my drommende driwwe,
my liestelike gierigheid.

In jou lieflike loulyf
lafenis my bronstigheid–
vind ek rus in die groen
weibemindlikheid
van jou kruine en dale.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.2.14

Ongetiteld

2005/2006


ín jou vuurmaakplek
wryf ek my stokkie tot jou warmmaakblokkie
senuweekooltjies spat

ons blaas
ons blaas tot die vonkies vlamvat
stook die kaggel hoog
met drifhout en met drang

totdat jy die brandklok lui

en ek met brandweerslang
                     die vure blus
      jou wellusblom nat lei

gewis: bó ons vuurmaakplek is die liefde nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.2.14

Drumpel

2006/2007


Jou lyf, plek-plek sag,
plek-plek styf,
is uitgestal.

Ek lek-lek jou lekkertes
tot jy huigend
oor die drumpel val.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.2.14

Weer

Tussen 'n menigde merk ek
hoe ek gemerk is,
uitverkies is tussen mans en vrouens
en broers en susters en kinders,
tussen vriend en vyand,
tussen bekendes en vreemdes;
hoe jy my herken, úítken
asof ons mekaar in vorige lewens
menigmaal geken het.

En sou ek in sulke dinge glo,
dan stem ek in: kom ons verken mekaar,
kom ons reïnkarneer en ontdek mekaar
van vooraf weer en bemin mekaar nog 'n keer:
een lewe om mekaar in lief te hê,
my geliefde, is vééls te min—



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence