Showing posts with label wellus. Show all posts
Showing posts with label wellus. Show all posts

2.2.15

Erfsonde

Sy stap in purper
(wat `n pretensieuse woord: “purper”
wat met niks relevant wil rym nie—
usurper? opsweper?)
met die korridor tussen die Gautrein
en Oliver Thambo af; die oosterse rok
klou kalander-koggelmander aan haar.

Al my mansjagse sintuie skerp skielik op
met haar verbystap en deur die venster
spring my verbeelding luiperd en ruik
my snoet jasmyn en sweet en proe my bek
kaneel en bloed.

Vir `n oomblik         kortstondig en fragiel
soos die stuiptrek van `n vinger aan `n sneller,
soos die ontspan van vingers om `n boogsnaar,
soos die sug ná semen- en bloedvergieting
beken ek haar as buit,
herken ek deur die ruit ‘ek’:

Nimrod—

die oertipe jagter, verkragter, land- en vrouerower;
die seun van Gam, die seun van Noag,
die seun van Adam—die Usurper,
aangenome seun van die Opsweper.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.9.14

Soenseisoen

Soen my net—soen my nou;
soen my op die sagteplekkie, broos en beskermend
soos 'n nuwe moeder 'n splinternuwe kind
waaraan die nattigheid nog klou;
of soen my op my voorkop soos 'n trots patriarg
wat 'n agter-agterkleinkind inhuldig; of gee my 'n heilige kus
soos 'n skepper wat lewe sy skepsel se neus binne blaas;
of plant jou tong wellustig en profaan my praatput in,
maak dat ek my woordesluk en aan jou soen verstik;
byt my nek met vampieriese dors; suig soos 'n onvergenoegde vul
aan my harige bors; lek die testosteroon aan my pektoraal,
proe my feromoon in die bedompige koelte van my armholte
en volg met jou tong die golwe van my ribbekas,
die kruise van my buik, die mik wat na my pubis lei,
my fallus en my bas; knibbel agter my knieknoppe en kuite
en tussen my tone asof jy 'n kewer is; kruwel mondeliks
oor elke plek wat deel van ek is, sodat ek gelyktydig
orgasties gril en liries gil—soen my net,
want daar is min dinge wat so seldsaamsoet
soos 'n soen is, eens die seisoen aangebreek het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.2.14

groenweivelde

2005/2006


In die trippel van jou lippe
wat soos wolklammers
oor die blou-oog van die hemel drawwe,
les my lentestogte, my drommende driwwe,
my liestelike gierigheid.

In jou lieflike loulyf
lafenis my bronstigheid–
vind ek rus in die groen
weibemindlikheid
van jou kruine en dale.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence