Showing posts with label musiekinstrument. Show all posts
Showing posts with label musiekinstrument. Show all posts

21.3.20

Die konsertmeester

kook en bleik
en droog en kerf
my beendere

ryg gare:
     herwin kneukel en gewrig
     tot gru windklingels

boor gate:
     suig my murg uit en fluit
     dooie deuntjies my femur in

span snare:
     pluk makabere melodië
     met my verharpde rugstring

monteer:
     die trofee—my skedel
     wat met bleek gebit in stilte skree


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.10.16

Groen gras en rooi grond

My slapende geliefde
se koue beendere
is ’n kaggel waarby
nostalgiese gedagtes
soos winterskinders
kaalvoet sit
en probeer
vingers&tone
warm maak.

Eendag sal ek nog
my verdorde geliefde
se tuin besoek,
’n bos blou tulpe bring,
en daar op die gras
kaalvoet sit,
met pen&pampier,
en met kitaar,
dat daai mooi
komposisie
wat ons lank, lank
gelede begin het,
klaar kan kom
om só ons liefde
op te som.

Wanneer ek klaar is,
met ’n son en maan
wat treur en taan,
sal ek pens&pooitjies lê
en die deuntjie neurie
die groen gras
en rooi grond in,
sodat haar koue klei
kan resoneer,
kan vibreer,
en dalk, miskien
weer vlam kan vat
en dalk, miskien
ons nog ’n keer
soos toentertyd
saam kan sing
en kan jolyt!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.3.15

Strek

Soos 'n vel wil ek uitstrek, soos 'n veld ooprol
en die son soos liefde indrink—my hart oopvlek
nes palms na gebed om die seën te vang.

Ek wil my self strek, die senuwees rek,
die morele sinapse soos 'n lier
sakrosant stem en plegtig stram.

My talente wil ek strek van horison tot aardsrand,
my verbeelding soos die konstelasies
in ses pare in span, 'n koets op die melkweg.

Laat ek myself strek: my vrese raakvat
en inperk, met geoefende soepel spiere
en 'n vasberade kyk vasvat en uitwerp

die duisternis in. Ek vrees nie die donker nie.
My siel lê uitgestrek en spin tussen die sterre
soos 'n swart kat wat diep die donker in kan sien.

Mag ek myself oopstrek soos 'n gekruisigde
wat in innige pyn empatiek almal wat gepynig
is omhels met wyd gestrekte oop omarmde arms.

God, strek my soos 'n gordel en omgord my
soos 'n profeet en maak my kinderlik nuttig
vir die liefdestaak van menswees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence