Showing posts with label brief. Show all posts
Showing posts with label brief. Show all posts

4.5.16

Verdig

ek verlang na my gedigte
die kroos van my kieste
van my en my muse
se mistiese lieste

om te dig

om jou lewe sodanig in te rig
dat woorde heilig is
soos geboorte heilig is

is ’n roeping

ek mis my gedigte
die woorde wat in my borskas
se broeikas lank gekweek het
tot my hart se dop klop-klop
oopgebars het met die pynlike euforie
wat slegs ’n moeder (en ’n digter) ken

ek bied jou ’n penning en ’n stuiwer
(die ganse salaris van ’n skrywer)
sê my nou in watter ander mond
en watter ander bekken
loop my poësieë rond
en ledemate rekken

           Liefste Muse,

           ek dink ek het die grot gevind
           waar ons drome oorwinter het:
           ek let tekens van kinderpret
           en rotsprente met twee vrolike figure
           en daar hang nog binnemonds ’n reuk
           van hoop uitgelek deur onskuldige kliere

           maar Lief ek vermoed die ergste:
           ek bespeur óók op die grond
           ’n worsteling en bloed en in die lug
           se onskuldsoet proe ek nóg
           ’n geur gevleg—’n onheilige geveg:
           nie soos die dood nie
           maar soos die gevorseerde

           stilte

           van onderdrukte
           ongedrukte
           van verdrukte
           woorde

           ek verlang na ons gedigte





... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.2.15

Alleenheid is ’n koue plek

Ek knip my oë en jy is weg
en sedertdien is niks meer reg nie;
niks wat ek sien het fokus nie;
geen woord is my mond se kneg nie.

Verwilderd soek ek heinde
en verward roep ek verre,
maar jy antwoord nie,
en my benoude siel het geen rus nie.

Die berge bulder,
maar bied g’n hulp nie;
my gille is uitasem en eggo
klankloos teen die kranse.

My beangste gedagtes is ganse in vlug;
my ganse gedagtes vlug na die somerplek
waarheen jy (bid ek) getrek het.
Ek bibber. Alleenheid is ’n koue plek.

Kyk, ek stuur vir jou ’n swerm vere:
pluk ’n pen my geveerde geliefde
en skryf vir my ’n gedig op ’n poskaart
met jou portret daarop geverf,

sodat ek my nagdrome ’n idee kan gee
waaroor om te dagdroom.
Ek trek ons herinneringe oor my
soos ’n blou trui.

Ek het my oë geknip en toe’s jy weg
en sedertdien is niks meer reg nie.
Ek draai my bewende blou rug,
en wens jou met elke rotasie t'rug.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.9.12

'n Opebrief aan my hartedief


Geagte Hartedief,

Onder huidige omstandighede is dit seker gepas dat ek u gelukwens met die suksesvolle kaping van my hart. U flink optrede en ratse voetwerk was welgedaan en soos dit enige ordentlike kaping betaam was die gebeurtenis heeltemal onverwags en is ek totaal omkant gevang. Ek bespeur in u dade dat u 'n meester hartkaper is en neem aan dat u al vele harte moes gekaap het om hierdie vlak van professionele vaardigheid te kon bereik. Ek beskou dit dus as 'n eer om die slagoffer van iemand so bekwaam soos u te wees.

Nogtans kan ek nie help om oor die sportmanskap van die voorval te peins nie. Ek verstaan dat die sukses van 'n kaping is juis gesetel in die onvoorsiene aard en oorweldigende skielike aggressie van die daad. Tog dink ek dat die diskrepansie in die vernuftigheid van die predator teenoor die onbekwaamheid van die prooi 'n jammerlike teleurstelling vir u moet wees. Vergewe my voorbarigheid, maar ek vermoed dat weens u bemeestering van u roeping u nie meer dieselfde genot daaruit put as in die verlede nie; dat dit nie meer dieselfde uitdaging bied as voorheen nie; dat die adrenalienvervoering baie minder is as van te vore. Gun my asseblief dan nou die geleentheid om 'n voorstel te maak wat ek van mening is u weer die opwinding te laat voel wat u ervaar het toe kanse van u sukses effe minder verseker was as nou.

Ek is van veronderstelling dat die plesier ontgun uit 'n hartkaping nie net daarin lê om 'n ekstra hart te besit nie, maar eerder die hele proses om 'n hart te bekom. Die pret is grootliks gesetel, sou ek dink, in die spreukwoordelike reis, eerder as die einddoelwit. Veronderstel dan dat daar was 'n kandidaat wat ervaring het om prooi te wees vir 'n hartskaping—so 'n ervare individu sal vanselfsprekend meer paraat wees en minder voor die handliggende prooifoute begaan. Die kandidaat mag selfs van strategieë gebruik maak om 'n toekomstige kaping te bemoeilik. Ek is seker u sal saamstem dat so 'n prooi weer 'n opwindende sportiewe element sal terug bring na die kapingsproses deur die vervelige voorspelbaarheid van 'n kaping effe te kompliseer—en wat sekerlik vir iemand met u uitnemende vermoeëns sal intereseer. Selfs 'n luiperd verkies 'n duiker bo 'n dassie.

Dit is met bogenoemde in ag dat ek myself as toekomstige kapingskandidaat aanbeveel. As 'n voorheengekaapte is ek eerstehands vertroud met die proses. Ek het ook reeds begin om myself bewus te maak van sekere kapingsverhinderingsmetodiek en glo dat ek die kapingsproses genoegsaam uitdagend vir u sal kan maak sodat u weereens die genot daaruit kan put wat u eens gehad het, maar wat intussen verflou het. Al wat nodig is om weereens u eertydse opwinding te herleef, is om my hart—tydelike, natuurlik—aan my terug te besorg en om aan my 'n gepaste voorsprong te gee.

Ek is oortuig dat die uitvoering van my voorstel weer u genot sal kan vernuwe en hoop daarom dat u dit ernstig sal oorweeg.

Beste wense,

Hartverlore



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence