Showing posts with label loop. Show all posts
Showing posts with label loop. Show all posts

10.6.25

Stap vir sielsiekes

Daar word—soos in ’n wasige droom—geloop,
op ’n oeroue voetslaanpad
deur ’n bos, deur ’n woud;
en tussendeur smarag en jaspis,
olivien en goud
drup die son
in slierte stroop.

[Dié beskrywing is te mooi
vir die donkerrooi van depressie.
Maar, helaas, dié wandeling
het in die somer gebeur,
nie die herfs nie.]

Daar word onthou: mistige beelde
en buikgevoelens word krits-krits met elke trap
op die wandelpad herkou: herinneringe
tot bolusse gekou en met heimwee afgesluk
en weer onderdruk vir ’n ander keer se stap
deur bos, of woud, of strandlangs
onder ’n laatmiddagson
wat soos ’n oorrypvrug
uiteindelik val, rol, kneus,
skielik skimmel en vergaan
(of onder ’n koel middernagmaan
wat weet hoe om te terapeut
wanneer die hart nie woorde het nie).


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.9.13

ons loop trots

Hierdie voetslaanpad is nie geplafei nie,
die duike is nie opgevul en die hewels nie plat gefyl nie:
inderdaad, dié pad is nie vir 'n koning voorberei nie,
dis 'n wandelpad: vir diere en gepeupel,
vir gewone hardwerkende gewemel, soos ons—

maar my liefling, fok die koninklikes: ons loop die pad
met ons eie voete—ons trap ons lewens oop, tree vir fokken
tree, self: as ek val help jy my op, as jy moeg is abba ek jou
en af en toe rus ons teen 'n skurwe krans en skep
ons asems met bakhande uit 'n spruit tot lafenis—

ons loop die pad begrafnis toe self: elke oopgebarsde blaas,
elke rou gevalde knie, elke litteken, elke blek, elke traan
is 'n merk dat ons geleef het—dra jou medaljes soos 'n veteraan:
trots en voorbarig! want, my vriend, dit is welverdiend.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence