Showing posts with label muse. Show all posts
Showing posts with label muse. Show all posts

10.11.23

Gee my jou hand

gee my jou hand, wys my jou palm:
ek wil die riviere daarop navigeer,
die salm opwaarts volg na die kuitwaters,
my skuit anker by daardie vrugbare plek
waar silwer grashalms soos nimfe in die strome
onder die volste volmaan dans;
 
neem my hand as offergawe:
brand dit op die altaar van jou hart
en laat die wierook opwaarts rank
na daardie ver geheime laer
waarvandaan muses mites duif
na skribent en bytelaar;
 
laat ons hande hou soos jong en ou verliefdes:
vir wie ingepalmde hande omhelsings is,
vir wie ingevlegde vingers wellustige lywe is,
vir wie hande vat ’n verbond is—
laat ons velbakterieë met die hand groet,
mekaar verken, beken, en kruisbestuif.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.11.19

Digterlike nostalgie

daar was ’n tyd wat mense nog
met geheiligde woorde bekoor het
soos verleidende muses in bosse

daar was ’n tyd, lank lank gelede
toe troebadoere nog gestaan het
onder balkonne en onder mane

daar was ’n tyd wat betoorde
metafore my mond uitgeval het
soos Alexandrië se brons perkamente

waar is daai tyd waar elke sin
konnotatiewe waarheid het
en elke klankgreep binne-in dringe?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.5.16

Verdig

ek verlang na my gedigte
die kroos van my kieste
van my en my muse
se mistiese lieste

om te dig

om jou lewe sodanig in te rig
dat woorde heilig is
soos geboorte heilig is

is ’n roeping

ek mis my gedigte
die woorde wat in my borskas
se broeikas lank gekweek het
tot my hart se dop klop-klop
oopgebars het met die pynlike euforie
wat slegs ’n moeder (en ’n digter) ken

ek bied jou ’n penning en ’n stuiwer
(die ganse salaris van ’n skrywer)
sê my nou in watter ander mond
en watter ander bekken
loop my poësieë rond
en ledemate rekken

           Liefste Muse,

           ek dink ek het die grot gevind
           waar ons drome oorwinter het:
           ek let tekens van kinderpret
           en rotsprente met twee vrolike figure
           en daar hang nog binnemonds ’n reuk
           van hoop uitgelek deur onskuldige kliere

           maar Lief ek vermoed die ergste:
           ek bespeur óók op die grond
           ’n worsteling en bloed en in die lug
           se onskuldsoet proe ek nóg
           ’n geur gevleg—’n onheilige geveg:
           nie soos die dood nie
           maar soos die gevorseerde

           stilte

           van onderdrukte
           ongedrukte
           van verdrukte
           woorde

           ek verlang na ons gedigte





... Sanko Lewis
Creative Commons Licence