24.3.12

Blootgestel

Hoe is dit dat
jy naak voor my staan,
maar ek kaal voor jou?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.3.12

Sommer maar net troos woorde van 'n pa aan sy dogter

Die vers kort eintlik nog baie werk, maar ek is nie lus nie, so hier is dit dan nou: sommer maar net. 


Hartskind, vertrou nie jou onderbewuste nie—

Hy's 'n liegbek!
Hy koggel jou met valshede:

Kloek dat jy kuikennietig is
sonder 'n vlerk vir skuiling;
kwaak dat jy onaanskoulik is,
(wat weet iets wat nie aanskou kan word nie van sulke dinge?);
Poets dat jy 'n pennie tussen ponde is,
(Dis omdat hy net pennies aangebied word, dat hy sulke snert kwyt raak).

Nee, my meisiekind—

Jy's 'n Vuurvalk,
nie 'n hoender nie;
'n Swaan,
nie 'n eend nie,
'n Krugerpond,
nie 'n sent nie.

Jou toekoms hou hemelse katedrale in vir vlieg;
berge staan in rye om jou hul skuiling aan te bied;
mere lê tjoepstil en hou hul asems op,
om nie jou asemrowende weerkaatsing leed aan te doen nie;
skatkisse slaan vuis vir die eer om só goue munt te huisves.

Nee, my prinseskind—

Luister nie na daai slegoom onderbewuste nie:
Hy's 'n vuilbek,
liegbek,
en as ek hom in die hande kry
gaan ek hom bliksem.
Niemand praat so van my mooikind nie!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.3.12

Wat is gras?

'n Vryvertaling van 'n gedeelte van Deel 6 uit "Song of Myself" deur Walt Whitman.


'n Kind het gevra, “Wat is gras?”, en bring vir my handevol . . .
Hoe kan ek die kind antwoord? Ek weet net so min soos hy wat dit is.

Dis dalk die vlag van my gesindheid, uit hopevol groengoed geweef.

Of dalk is dit die Here se sakdoek:
'n geurige geskenk en aandenking aspris laat val
met die Eienaar se naam êrens op die hoeke, sodat ons dit mag sien,
en opmerk, en sê Wiesin?

Of dalk is die grasself 'n kind, 'n baba deur die planteryk geproduseer.

Of dalk is dit 'n eenvormige hiëroglif, met dié betekenis:
oralsom is wye areas en dun areas eenders uitgespruit,
tussens swartmense en tussen witmense groei dit,
Zoeloe, Xhoza, Tswana, Kleurling, Boer, ek gee aan elkeen dieselfde,
ek ontvang elkeen dieselfde.

Maar nou lyk dit vir my soos die pragtige ongesnyde hare van grafte.
Ek sal jou—krulgras—met teerheid behandel.

Dit mag wees dat jy uit die borste van jongmans sweet,
en dit mag wees dat as ek hulle geken het, sou ek hulle lief gehad het;
dit mag wees dat jy van oumense afkomstig is, óf van nageslagte—vroeg
uit hul moederskoot geneem,
en hier is jy nou—moeders se skote.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.3.12

Wenke vir die skryf van poësie

Ek het verlede jaar 'n seminaar gegee in die skryf van poësie. Hier is drie (en 'n bietjie) van my hoofwenke:

  • Maak abstrakte stellinge konkreet en konkrete stellinge interesant (deur die gebruik van beelde en simbole -- vergelykings en metafore).
  • Kommunikeer gevoel, maar vermy sentiment en clichés.
  • Vermy (eind-)rym, tensy die gedig dit vereis. (Betekenisvolle binnerym skep 'eenheid' in die gedig en is wenslik. Daarinteen laat gedwonge eindrym die gedig na 'n 'rympie' lyk -- definitief onwenslik!)

Lekker skryf!

... Sanko Lewis Creative Commons Licence

7.3.12

Speels soos jel!

Vry vertaal vanaf 'n gedig deur Yung-Mi Kim.


Ek is in die wêreld
speels soos jel!

Dus,
werk ek nie vir speel nie!

Maar, vandag jaag ek my stert
vir die lekkerte!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.3.12

Roekeloos

jy is
'n roekelose
liefdadiger
met geen respek
vir die reëls
van die hart nie


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.3.12

Geheime dade

Vanaand gaan ek vir my beminde
maanwit rose pluk. Net die roosskoon
maan sal van my geluk en geheime dade
weet: hoe ek op elke blom se kroon
'n fluistersagte soen laat rus — en dan belei,
hoe luidkeelslief ek vir haar is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence