Showing posts with label verdriet. Show all posts
Showing posts with label verdriet. Show all posts

29.9.24

Laat my hier alleen

“Laat my hier alleen”
(’n Vryvertaling van Francesca Caccini se aria ‘Lasciatemi Qui Solo’ uit die 17de eeu.)
Laat my hier alleen:
keer terug, voëls, na jul neste
terwyl my siel en my verdriet
helaas op hierdie kus uitadem.
Ek wil niemand by my hê nie,
behalwe ’n koue klip
en my noodlottige smart.
Laat my sterf.
Soetste sirenes,
wat met jammerhartige lied
my pyn versag—
swem elders heen!
Roep die golwe weg
met hulle wrede veragtings en gramskap.
Laat my sterf.
Kalmste winde,
keer terug na jul grotte.
Ek vra slegs my harde klaagliedere
om by my te talm:
ek roep nie vir julle sugte nie.
Alleen verlang ek
dat my sielepyn eindig.
Laat my sterf.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.10.14

Seisoenale verdenking / Seasonal Suspicion

Seisoenale verdenking

Hy weet dit is herfs
want die ginkgo biloba
sidder geel—soos verdriet;

en hy weet dit is herfs
want die esdoornboom
skud bloed van haar hande af.

Dit is herfs, en hy weet dit,
want sy binnegoed is bruinblare
en hy staar voëlverskrik na sy verlede.

Dit is herfs. Ongetwyfeld is dit herfs.
Want alles sterf tog so verskriklik mooi
nes die noodlotige son in brons en in rooi.


Seasonal Suspicion

He knows it is fall
for the ginko biloba
trembles yellow—like grief;

and he knows it is fall
for the maple shakes blood
from her limbs.

It is fall, and he knows it,
for his insides are brown leafs
and he stares like a scarecrow at his past.

It is fall. Undeniably fall.
Because everything dies so awfully beautiful
like the fated sun in scarlet and in bronze.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.10.14

Platvloerstuis

Daar is ’n kraai, swartnat gereën van verdriet,
en ’n kat, ewe nat en miserabel gebad
in die sorge van môre, en ’n treurige hond
sonder baas, en ’n sielsverskrikte kaaslose muis—
almal ewe lewensmoeg en platvloerstuis in my hart.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence