Showing posts with label gode. Show all posts
Showing posts with label gode. Show all posts

31.8.23

Por farvor

'n filament flikker deur die donker firmament —

momentele enlightenment — dan,

'n onmiddellike ewigheid later: dié knal

galm deur die ganse heelal

en die daaropvolgende benoude ontnugterde asemophoustilte;

en dáárna     'n lukraak ritme van vallende pêrels,

óf albasters, of planete oor 'n marmervloer:

 

asof veertig dae

en veertig nagte

hurk ons soos kuikens

onder vere en luister hoe die gode

daar buite ons, of die mensdom, se lot beklink;

hier binne bibber-broei ons kaal lywe

teen mekaar en bid ons dat die vorste,

al is dit net vannag

(want môre bring sy eie bekommernisse),

die dak en ons bed en die laer sal spaar — por farvor

 

en wyl ons bid, dalk ook die meubels en meublemente,

die koelkas en spens, die kookware en breekware,

die kluis en dokumente, die albums en sentimente

 

bowenal, natuurlik, o Groot Heelal, spaar 'seblief

ons nietige lewens: kaalgat-ek en my kaalbas-lief



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.8.18

Die seun van die mens

hy staan ’n mistigheid
en drink die mis

sy seëninge tel hy hopeloos
want ons heelal se kolofon

dui ’n druktyd en verwyt
daarom asem hy die einde

soos wasem voor die son
met leë hande en hartseer oë

sy ledemate en lendene
verdamp in die verdrietigheid

nes muses in ons drome
verdwyn hy soos ’n lied

nes gode in ons wense
verskiet hy in die niet


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.10.15

Annunsiasie

O gedorie! o genade! o die dinge hier te sien!
O my goeiste! o my aarde! watse lot is hier bedien?!

Katastrofe, kataklisme, katakombe, katpardel!
Kan jy sulke dinge indink? Kan jy dít tog oorvertel?!

O die wêreld lê aan skerwe, o die heelal roep-en-gil!
O die sondes oorgeërwe, o die gode tjoep-en-stil.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence