Showing posts with label Bybel. Show all posts
Showing posts with label Bybel. Show all posts

1.10.13

Wat om met 'n geheim te doen / What to Do With a Secret

Wat om met 'n geheim te doen

Wanneer jy die albatros
(swaar soos 'n siekte)
nie langer wil dra nie,
soek, met 'n sielsoeke, na 'n boom.

Dit moet 'n gróót boom wees:
'n skaduwee van daardie éérste boom
van kennis van goed en van kwaad;
'n boom wat die gewig van 'n geheim
tot ná die derde en die vierde geslag kan dra.

'n Kremetart sal deug
of 'n ou plaasbloekom
of 'n akkerboom
wat vir generasies
lank kan swyg.

Wanneer jy die régte ene vind,
soek vir 'n leë houtkappernes
(of as dit moet, maak self 'n gat
met waarheid en flymskerpwoorde)
en vou jou hande buis daarom.

En dan, soos die ou Sjinese
wat wel bekend was met allerlei rituele,
fluister jou geheim die holte binne

en vinnig—voor die vlugtige ding kan vlug!—
smeer die gat haastig toe met modder
en seël dit met 'n soen.

Dis wat jy met 'n geheim moet doen.

Óf, belei dit. Op eie risiko.



What to Do With a Secret
When you don't want to carry the albatross
(heavy like an illness) any longer,
search, with a soul search, for a tree.
It must be a big tree:
a shadow of that first tree
of knowledge of good and of evil;
a tree that can carry the weight of a secret
until after the third and the forth generation.
A baobab will do
or an old farm eucalyptus
or an oak
that can keep quiet
for generations.
When you find the right one,
search for an abandoned woodpecker's nest
(or if need be, make a hole yourself
with truth and sharp words)
and fold your hands around it.
Then, like the ancient Chinese
who were well versed in all types of rituals,
whisper your secret into the hole
and quickly—before the volatile thing can flee!—
cover it hastily with mud
and seal it with a kiss.
That's what you should do with a secret.
Or, confess it.
At your own risk. 

1.12.11

Verjaarsdagwense

Díe dag,
vandag,
jou verjaarsdag
het my onverwags betrap

soos die Wederkoms.
Dit was nes in die dae van Noag –
ek het nie gedrink nie,
maar ek het geëet en gedink aan trou.

Soos die Wes-Transvaal se lente –
die takke swel pitswere
skielik (sonder serimonie) bars dit blertse:
semenwit      tepelpienk      skrotumperse

en dan,
die bloeisels
wat soet parfume poep.

En dan nog skieliker,
met ’n snik en ’n snak,
is dit somer.

Só betrap jou verjaarsdag my
en ek kry toe maar blomme
(nie tulpe nie, ek het jou al te veel daarvan gegee):
geel daisies en blou gesiggies en raffialint
en stasioneer dit in ’n fles in my kamer.

En toe bid ek maar vir almal wat vêr is
(maar nie vir jou nie, want gebede aan die dode is kettery).



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.11.11

Genesis 2:24

My blote smelt jou blanke –

          Ek wis g’n onderskeid
          tussen vlees of huid
          g’n lyn tussen id en syn
          nóg verskeidenheid
          tussen die hartklank
          en die weerklank
          van ons seksualiteit nie.

jou naakte smelt my flanke.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.11.11

Fiktiewe martelaarsendeling in die Oriënt

ewenas ’n oggendkoerant
blaai jy my dat ek slem
soos ’n oosterse waaier
– frit –
              knak my ken
jou tong lem
jou lem snit
my siel bloed
kersiebloeisels drup
my keel groet
“Vader vergewe,
                            en Amen”



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.6.11

Sirkus

ek vou my liefde origami:
lelies, swane, perde pronk
voor die voordeur van jou hart
paradeer die hele wellustige sirkus
met styfgespande broekiekouse

wanneer flap jy die tentdeur oop
soos Jael vir Sisera?
sodat ek kan kom dronk raak
aan jou melk
aan die slaap kan raak
aan jou boesem

ek spring deur vurige hoepels
loop tou en vou vir jou swaardlelies

in my drome het jy ’n dolk in jou hand:
jy pen my slaap teen jou hart vas...



Sanko Lewis
Creative Commons Licence