Showing posts with label nag. Show all posts
Showing posts with label nag. Show all posts

25.4.16

Wat nag is

Die dag toe jy dood is 
slaan my hart 
die sonsondergang
'n bloukol. 
Ek verstaan nou
wat nag is. 


Al daai stories oor die aarde 
wat draai is bog. 
Dit is derduisende treurendes se harte 
wat met gebalde bitter vuiste 
dag na dag die hemel swart slaan— 
dít is wat nag is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.11.12

niks is vanselfsprekend nie


heelnag bly ek wakker en wag
ek wag vir die dag soos 'n uil vir 'n muis

ek wag vir die horison om haar wye dye
nes 'n tydskrif op die middelblad oop te val:
geboorte te gee aan 'n blinknuwe son
                (want elke dag verdien 'n nuwe een)
waarvan die nánag nog aan sy naelstring klou
soos 'n kleuter wat vashou aan 'n balon se tou

die heelnag bly ek wakker om dit te sien

want niks is vanselfsprekend nie

nie jy nie

nie eens die son nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.3.12

Geheime dade

Vanaand gaan ek vir my beminde
maanwit rose pluk. Net die roosskoon
maan sal van my geluk en geheime dade
weet: hoe ek op elke blom se kroon
'n fluistersagte soen laat rus — en dan belei,
hoe luidkeelslief ek vir haar is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.11.11

Nagblom

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Kim Sung-Ja.


ek wil met jou praat
iets vir jou benadruk

maar die onoorbrugbare slaap
maak woorde stom

die onbekombare slaap
tap denke leeg

daarom pos ek vir jou
                         'n wit glimlag


박꽃 – 김성자

보고싶단 말도
그립단 말도
차마 할 수 없어
잠못 이루는 밤
하염 없이
너에게 보내는
하얀 미소

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.10.11

Nag

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Jeong Gabsook.


Iemand
vou die nag oop soos 'n tafel—

(Slegs in 'n kop
word die ligte in knus maande aangeskakel.)

—wêreldwyd word tafels gedek met slaap.


밤 – 정갑숙
누군가
어듬 이블 한 채를 펼친다
머리말엔
아늑한 달 조명등 켜고
세상은 한이블을 덮고 잠잔다.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.9.11

Verewig

Verewig is nie soos 'n leeftyd nie,
                         —'n sonsopkoms,
                                                  'n sonsondergang—
verewig is 'n baie, baie, baie lang tyd;
maar indien verewig vir ons bestem is
soos 'n kortstondige geboorte
                         —'n eier kraak oop en die son
                                                  spring uit met geel donse—
vir ons bestem is
en die onvermydelike dood
                         —soos 'n blom vou die dag
                                                               in die nag toe—
vir ons bestem is:
dan sal ek graag verewig saam met jou—verewig—wees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.4.11

Openbaring

Toe nag aan dag geboorte gee,
jy gefetus teen my ribbekas ingelas,
jou asem met myne in gety
(die produk van vele seer- en lekkerkry),
tref dit my:
hoedat een man een vrou
een toekoms saam kan bou
om een ewigheid in te hou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence