Showing posts with label kunstenaar. Show all posts
Showing posts with label kunstenaar. Show all posts

10.11.23

Gee my jou hand

gee my jou hand, wys my jou palm:
ek wil die riviere daarop navigeer,
die salm opwaarts volg na die kuitwaters,
my skuit anker by daardie vrugbare plek
waar silwer grashalms soos nimfe in die strome
onder die volste volmaan dans;
 
neem my hand as offergawe:
brand dit op die altaar van jou hart
en laat die wierook opwaarts rank
na daardie ver geheime laer
waarvandaan muses mites duif
na skribent en bytelaar;
 
laat ons hande hou soos jong en ou verliefdes:
vir wie ingepalmde hande omhelsings is,
vir wie ingevlegde vingers wellustige lywe is,
vir wie hande vat ’n verbond is—
laat ons velbakterieë met die hand groet,
mekaar verken, beken, en kruisbestuif.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.6.14

Ek mis jou (nuwer weergawe)

Aangepaste weergawe. Sien oorspronklike hier.


Ek mis jou.
Met elke klop mis my hart jou.

My oë mis jou lyn, versigtig getrek
met ’n Pigmalion-pen: van jou kroontjie,
jou wenkbrou, jou neus, jou heuningsoet
lippe en ken, alles kunstig uitgebytel.

My honger hande lus na jou vorme:
jou nek-skouerkromme, jou middelkurwe,
borste, dye, boude, bene, kuite, enkels, lieste,
vrug: volmaak my lekkende bakhandpalms.

Ek mis jou.
Met elke lewe mis my siel jou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.2.13

Vakmanskap / Craftmanship


Vakmanskap

My geliefde vriend,

Ek wil so graag vir jou 'n gedig beeldhou,
maar die klei gly my vingers ongevorm verby,
die beitel skram etsloos teen die marmer wang.

Ek weet goed hoe om 'n vrou se vorm te vou—
my kunstenaarsoog is wel bekend met haar gekruinde lyne,
my skrywerstong ken haar valleie en haar duine.

Maar jy, my vriend, los my woordeloos.
Wie gaan my hierdie vakmanskap leer?
Hoe skryf ek die liefde van 'n mansvriend neer?


Craftsmanship 
My beloved friend,
I so want to sculpt you a poem,
but the clay slips pass my fingers unimpressed,
the chisel ricochets etchless from the marble's cheek.  
I know well how to fold a woman's form—
my artist's eye is well informed with her curved lines,
my writer's tongue knows her dunes and ravines. 
But you, my friend, leaves me speechless.
Who will teach me this craftsmanship?
How do I scribe the love of male companionship?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence