Showing posts with label boesman. Show all posts
Showing posts with label boesman. Show all posts

4.7.12

Die Tafelbergsutras


Laat val jou oë met vergenoegdheid op die blou 
bo die baai, dan sien jy hom—Gautama—ewiggroot
in sy missag mantel sit: kruisbeen en vriendelike
soos 'n boeppens Khoi, kalbas en al, op Tafelberg.

Sien hoe raak sy regterhand met lenige
songeel vingers die berg se bronsbruin wand:
hy roep haar as getuie—Mara se sondige land—
Suid-Afrika is stampvol lyding: selfsug,
onvergenoegdheid, 'n bronstige honger.

Die Boeddha sit hier op ons stoep
en weerskante die kongōrikishi:
hoe gepas díe Duiwel en díe Leeu
om die heilige Siddhārtha op te pas.

“Wat maak hy hier?” en hy verdwyn.
“Hoekom sit hy daar?” en hy is weg.

                    die moordenaar ken hom nie
                    die dief kan hom nie besit nie
                    die hoereerder kan hom nie aanraak nie
                    die leunaar word nie gehoor nie
                    die dronkaard kan nie besin nie

Maar die Boeddha bly barmhartig:
Die agt voetslaanpadjies lei tot by sy
voete wat tussen die fynbos en proteas rus.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.11

Sand-Kupido

My geliefde het die pad gevat,
opgerol en oor haar skouer gegooi.
Ek kan g’n spoor vind om te sny nie,
haar lyn is op g’n kaart te kry nie.

Ek roep na die boesman-van-die-liefde
met sy mossievlerkies dwarrelwind op sy stuitjie,
sy suikerbektongetjie klap-klap simpatie,
hy waaistert sy boog en pyltjie.

“Soek haar – snif haar reuk en vind haar.
Kom nie terug tot jy haar kry nie.
Leeg is die volstruiseier in my bors
en ek vrek al van die dors.”



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence