Die Opstanding van Eva
3 November 2006
Soos ’n kind slapies tel vir Krismis,
só wag ek vir Jesus om die son te gryp,
dit met sy hande plat te spin nes pizza-deeg
en dié goue kleed as pantser om sy breë skouers te gooi.
Ek wag ongeduldig dat hy op die rug
van sy gunsteling cumulus moet spring.
Die wolk sal eers nukkerig sy wollerigheid afskud,
dan groot wit vlerke ooprol soos seile op ’n skip,
en eindelik, met wit spiere, soos ’n padda spring
– Aarde toe.
My Here se ligkleed sal hom volg soos ’n vurige rivier;
sy gevleuelde weermag gewapen
met pikke, spitvurke en grawe, agterna.
Dis oestyd.
As die trompet blaas – die skof aankondig – begin die delwery.
Ek gaan een engel om die hals gryp soos Jacob.
“Wys my! Wys my mý engel se graf!”
Ons gaan draf, ’n ewigheid naby,
tot waar my slapende skone lê.
Die toneel is laf:
’n Dooie wat lui uitstrek,
gul gaap, uitgerus glimlag en sê:
“Ek’s dors – iemand vir ’n koppie tee?”
Ek gaan jou gryp
en met slobberige heimwee soene
die stof van jou gesig afskilfer.
Jy gaan frons soos ’n pasgeborene.
“Wat’s fout met jou?!
Is jy nog nie oor daardie donderse depressie nie?”, vra jy.
Hoe kan ek depressief wees met my verlorene
nou ’n nuut geborene, gaan ek dink.
“Vir wat die oordadige affeksie?”
Verlange is relatief. Jy het my ’n dag gemis.
Ek mis jou reeds jare lank, maar ek sê niks nie.
Ek hou jou net vas asof jy enige oomblik wind gaan word.
Miskien gaan ek vra hoekom jy nie jou sexy denim
vir hierdie okkasie aan het nie
en jy gaan met jou kritiese oog sê dat jou blink nuwe rok
meer gepas is, al sit dit bietjie losserig om die middel.
Dalk sal jy mompel dat dit na ’n kraamrok lyk,
maar jy hou van die materiaal.
Ek gaan lag.
Ons gaan rond kyk en sien of ons nie Amanda Strydom
êrens sien nie. Sy gaan ’n negro-spiritual sing.
Ek vermoed “Swing low, sweet chariot”.
Ons familie en vriende gaan oral om roep
soos afslaers op vandisie dag.
Ons gaan beurte maak om mekaar se geliefdes te soengroet –
maar nie mekaar se sy verlaat nie. Nie weer nie.
Jesus gaan ons nooi vir piekniek
onder die Groot Boom.
Ons gaan op ’n blokkieskombers sit.
Hy gaan ’n kitaar van nêrens af na vore bring –
jou maroen akoestiese kitaar met die prentjies op –
en gaan vir ons ’n liedjie sing.
Ons gaan aan die deuntjie hang soos verliefdes.
Jy gaan borrel oor die harmonie.
Ek gaan ekstaties raak oor die beeldspraak.
Vir ’n duisend jaar gaan ons verlore tyd inhaal.
Ons gaan dekades lank gesels oor dieselfde onderwerpe.
Ek sal vir jou sê dat ek jammer is oor so baie dinge.
Ons gaan ’n bietjie huil.
Jesus gaan ’n boks tissues nader trek.
... Sanko Lewis
No comments:
Post a Comment