As ek 'n agterverhoogtoegangskaartjie vir 'n omstrede Willie Nelson-vertoning het, sal ek vir jou daar tussen al die ander volksvreemde inboorlinge gaan soek soos 'n hond sy baas by 'n kerkbazaar. Wanneer ek jou gevind het, gaan ek maak of ek jou nie ken nie en eers met al die ander mooi meisies, in hulle frilletjie-baaikostuumtops en stywe denims wat hulle vir hierdie aandgeleentheid aangetrek het, flankeer. Eventueel, deur die loop van die aand gaan ons langs mekaar beland. Ek gaan kommentaar lewer op jou interesante skoene en hoe dit jou slanke enkels komplimenteer. Ons gaan reeds oor verskeie onderwerpe gesels het voordat ek myself aan jou voorstel, en jy aan my. “Dis 'n mooi naam,” sal ek sê, jou in die oë kyk en glimlag. Ons gaan giggel wanneer ons uitvind dat ons alby nie gaande is op Country-musiek nie, maar dat ons paradoksaal gaande is oor Willie Nelson. Die slegte ding is, Willie Nelson is nie meer jonk nie. Ja, hy's jonger as die ander Nelson waaroor almal gaande is, maar ons weet hoe vinning Madiba oud geword het. So ek hoop dat ek 'n agterverhoogtoegangskaartjie vir 'n omstrede Willie Nelson-vertoning kry voor sy twee gevlegde ponies op 'n elektroniese afslaer verkoop word ten bate van 'n welsynsorganisasie. Tyd hardloop uit en agterverhoogtoegangskaartjies, veral na iemand se hart, is moeilik bekombaar. Sien jou daar.
... Sanko Lewis
No comments:
Post a Comment