3.1.22

Suppliseer

Wysgier,

luister, hoor dié dierlike grom
wat drom in my krop—stop jou stommigheid
en deel jou wysheid, verklaar watse beneukte
dreuning vibreer hier in die grotkamers
van my ribbekas—is daar drake?
wat na jare hulle vas wil breek?
en nou wil deurbreek, losbreek, uitbreek?

Magiër,

gee ag op my roep, neem notisie
van my hulpkreet: herroep
die ou profesieë, lê uit, ontbloot, openbaar—
ek weet iets dergeliks is op hande:
lees my palm, bespeur my iris,
gewaar my lot en verklaar
vanwaar die noodlot se winde walm!

Alchemis,

gewis jy wis wat was en is—dus,
sink in ink jou penveer en graveer
die tekens van ouds, laat die kerslig
jou titsels toelig, formuleer ’n hipotese:
is dit reuse? uit die oertyd?
wat lank in haat en in verwyt
nou uit hibernasie tot wraak ontwaak?

Priesteres,

my geloof is dun, my hoop is yl—het jy vir my
’n spreuk of les om sin te maak, of woord of fles
van die gode as balsem vir my onrustige gees?
Of dalk ’n wapen vir beskerming: ’n dolk of swaard,
’n spies of skild, ’n hamer of helm of mantel ondeurpriembaar?
Watse offer kan ek bied? Wie se bloed moet ek giet?
Hoe is rus vir my siel bekombaar?

Troebadoer,

keel jou lied en lip jou vers: neurie ’n wysie,
komponeer ’n rympie, sing ’n minnesang

wat kan resoneer met die verlang van my hart.

Stram jou lier, laat dit kwinkeleer en vibreer
soos kat-op-skoot, soos skat-in-skroot:
smeek die Muse my onthalwe—
met vuur-verruklik my binneste te salwe.  



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment