Daar is twee hoofuitdrukkings in Afrikaans om jou liefde teenoor 'n ander mee te deel: “Ek het jou lief” en “Ek is lief vir jou.” Alhoewel die twee uitdrukkings tipies as eenders in betekenis beskou word, is daar tog semantiese verskille wat lei tot eiesoortige betekenis.
Daar is twee punte van belang rakende die uitdrukking “Ek het jou lief.” Ten eerste word die liefdesdaad as 'n besitting beskou. Dit is iets wat ek het. Die tweede en moontlik belangriker punt is dat hierdie uitdrukking kontekstueel is. Dit wat ek het, het ek binne 'n bepaalde tyd en ruimte. Deur na soortgelyke uitdrukkings te kyk, kan ons die kontekstuele aard daarvan beter besin. “Gister het die kinders pret in die speelparkie gehad.” Dit wat die kinders gehad het, naamlik “pret,” het hulle gister (tyd) in die speelparkie (ruimte) gehad. Ons sien dat die uitdrukking slegs binne 'n bepaalde tyd en ruimte van toepassing was. “Ek het honger,” is soortgelyk voorwaardelik. Dit wat ek het (“honger”), het ek slegs vir 'n bepaalde tydperk. Sodra ek geëet het, het ek nie meer honger nie. Die kinders se pret het slegs gister geduur terwyl hulle in die parkie was. Dit wat ek het, is dus nie ewigdurend nie. “Ek het jou lief” is nie kategories dieselfde as “Ek het groen oë” nie. Die rede daarvoor is dat liefde 'n gevoel is. Met “gevoel” bedoel ek nie 'n emosie nie, maar eerder 'n sensasie, soos dors, honger, kopseer, pret, 'n orgasme. Weens die vlietende, tog intense, aard van gevoelens pas “Ek het jou lief” meer by jongverliefdes, of in daardie spesifieke situasies waar die gevoel van liefde pertinent sterk, byna fisies, gevoel word. “Ek het jou lief” kommunikeer 'n intensie gevoel in die hier-en-nou, maar dit dra ook 'n besitlikheid oor weens die woordorde: “Ek het jou . . .” kommunikaar indirek “Ek besit jou.”
“Ek is lief vir jou” kommunikeer as te ware twee dinge gelyktydig, waarvan die eerste eksistensiëel van aard is. Daar is 'n versoeking om te dink dat “Ek is lief vir jou” die Afrikaanse ekwivalent van die Engelse “I love you” is, maar dit is 'n verkeerde aanname. 'n Direkte vertaling van “Ek is lief vir jou” heet “I am love for you.” Die vreemdheid van hierdie uitdrukking in Engels stel ons in staat om duideliker die eksistensiële aard raak te sien: “I am love . . .” / “Ek is lief[de] . . .” Die subjek en objek word gelykgestel: X = Y; “ek” = “liefde.” Ek sê “Ek is honger” of “Ek is moeg” wanneer die gevoel sodanig tot my bewuste getree het, dat ek dit kwalik kan ignoreer. Wanneer ek dae laas geëet het, of dae laas geslaap het, raak my hongerte of my moegheid verterend. Dit is al waaraan ek kan dink, tot so 'n mate dat “ek” = “honger” of “ek” = “moeg.” Dieselfde gebeur met liefde, veral tydens verliefdheid: “ek” = “lief[de]”; “Ek is lief[de] . . . ” Die tweede boodskap wat gekommunikeer word is dat die “liefde is vir jou.” Gewoonlik wanneer ons hierdie grammatiesevorm gebruik is dit nie gerig aan 'n persoon nie: “Ek is laat,” “Ek is eensaam,” “Ek is Afrikaanssprekend” en so aan. Hierdie is die basiese subjek-werkwoord-objek sinskonstruksie. In die uitdrukking “Ek is lief vir jou” vind 'n interesante vervaging in die subjek en werkwoord plaas. Ek-is-lief word 'n sinsnede wat deur iets anders gerig word—die sinsnede kort 'n objek (direk of indirek) om volledig te wees: “Ek is lus vir sjokelade” (direk) of “Ek is honger [vir kos]” (indirek). Sonder die objek is die uitdrukking onvolledig. “Ek is lief . . .” kort 'n “vir jou” om daaraan sin te gee; met ander woorde, my liefde kort jou, want my liefde is gerig aan jou, sonder jou maak my liefde nie sin nie; en omdat ek lief[de] is wat tot jou gerig is, maak ek ook nie sin sonder jou nie, net soos wat “Ek is honger” nie sin maak indien kos nie bestaan nie. “Ek is honger” maak slegs sin omdat daar kos is wat my hongerte kan versadig; “Ek is lus vir sjokelade” is slegs sinvol omdat daar iets soos sjokelade bestaan—'n toffieappel gaan nie my lus om sjokelade versadig nie. “Ek is lief vir jou” is slegs logies omdat daar 'n “jou” is wat my liefde kan ontvang.
Dit is interesant dat ons in Afrikaans nie die eenvoudige subjek-werkwoord-objek sinskonstruksie gebruik soos in die Engelse “I love you” om ons liefde tot 'n ander uit te druk nie. Ons verstaan die uitdrukking “Ek haat jou” tog goedgenoeg, maar “Ek lief jou” lê ongemaklik op die tong en staan kru op die bladsy. In plaas daarvan dat “lief” ons saamvoeg, skei dit ons van mekaar. Ek staan aan hierdiekant; jy staan aan daardiekant; en in die middel staan die liefde soos 'n hindernis—gepas vir haat, maar ongepas vir liefde.
Met “Ek het jou lief” is liefde in ons besit; 'n intense gevoel in die hier-en-nou. Met “Ek is lief vir jou” verander ek in liefde en vind my vervulling in jou.
... Sanko Lewis
Dit is uitstekend!
ReplyDeleteDankie. Ek weet nie of my sintaktiese analise korrek is nie, maar dit is ten minste hoe ek die ding verstaan. (-;
ReplyDeleteDankie vir die duidelike verduideliking
ReplyDeleteMy plesier
Delete