ek verlang na my gedigte
die kroos van my kieste
van my en my muse
se mistiese lieste
om te dig
om jou lewe sodanig in te rig
dat woorde heilig is
soos geboorte heilig is
is ’n roeping
ek mis my gedigte
die woorde wat in my borskas
se broeikas lank gekweek het
tot my hart se dop klop-klop
oopgebars het met die pynlike euforie
wat slegs ’n moeder (en ’n digter) ken
ek bied jou ’n penning en ’n stuiwer
(die ganse salaris van ’n skrywer)
sê my nou in watter ander mond
en watter ander bekken
loop my poësieë rond
en ledemate rekken
Liefste Muse,
ek dink ek het die grot gevind
waar ons drome oorwinter het:
ek let tekens van kinderpret
en rotsprente met twee vrolike figure
en daar hang nog binnemonds ’n reuk
van hoop uitgelek deur onskuldige kliere
maar Lief ek vermoed die ergste:
ek bespeur óók op die grond
’n worsteling en bloed en in die lug
se onskuldsoet proe ek nóg
’n geur gevleg—’n onheilige geveg:
nie soos die dood nie
maar soos die gevorseerde
stilte
van onderdrukte
ongedrukte
van verdrukte
woorde
ek verlang na ons gedigte
... Sanko Lewis