’n Vriend (nou dood)
het my op ’n keer oor die foon vertel
van ’n profeet (óók reeds dood)
wat in visioen gesien het,
hoe Adam (voortyd terug al dood)
morsdood omgeslaan het,
toe hy vir die eerste keer
Moeder Aarde se bloedrooi grond
gewaar het (dié roes Oervagina
waaruit hy gebore was),
want, soos ons álmal wéét,
was dit in die oertyd
’n ergelike verskrikking
van ’n ding vir ’n kind
om sy ma, óf sy pa,
se skaamte te sien,
en hoedat die Vader
sy kleikind uit die dood
moes opwek—deur
’n tweede keer
die lewelose lyf
met lewenswind
deur die neusgate in
in te blaas.
Maar dit het hom nie,
sê my vriend (wat dood is)
die Tweede Adam gemaak nie;
hy was steeds die eerste een,
al het hy twee keer gelewe
en gesterwe: stof-tot-stof.
’n Mansmens is tog
so ’n brose ding,
jy weet.
... Sanko Lewis