"Siembamba, mama se kindjie,
Siembamba, mama se kindjie
draai sy nek om, gooi hom in die sloot;
trap op sy kop dan is hy dood."
Het jy al gewonder hoekom daar vir babas oor doodmaak gesing word?
In die oudste weergawes is beide Rooikappie en haar ouma deur die wolf opgevreet. In ander weergawes los die wolf oorskot vleis van verorberde Ouma, wat Rooikappie eet en so onwetend haar eie vlees-en-bloed kannibaliseer. In party stories word Rooikappie beveel om haar klere uit te trek en in die bed te klim, en dan eers vreet die wolf haar op. In later stories het die houtkapper met geweld en 'n byl die wolf oop geslag. Feëverhale--regte feëverhale--is nie ligtevermaak nie; hulle is donker en geweldadig en plegtig.
Moenie met vreemdelinge praat nie; moenie vreemdes in jou huis toe laat nie; bly doelgerig; wanneer jy kantgeslaan raak ("getting sidetracked") kan dit erge gevolge hê; jou nalatigheid en onverantwoordelikheid kan die mense na aan jou seermaak -- selfs hulle dood tot gevolg hê; die donkerwoud (donker buurt, donkersteugie) is gevaarlik; gehoorsaam jou ma (moenie die wet oortree nie); moenie alles glo wat iemand vir jou sê nie (moenie liggelowig - "gullible" - wees nie); jy't 'n verantwoordelikheid teenoor behoeftiges (sorg vir die oues en siekes); pasop vir seksuele-predatore; net omdat iemand vriendelik is, maak nie van hom minder 'n monster nie; dis beter om die monster (probleme) van die begin af hok te slaan, want om later die monster dood te maak vereis moeite en bloedvergieting (erge opoffering); wanneer jy opdinges, moet ander tot jou redding kom, net omdat jy eerder gaan blomme ruik het as om te flippen doen wat jy veronderstel was om te doen! Dié en vele ander is lesse van die "Rooikappie en die Wolf"-storie.
Net omdat iets 'n wiegeliedjie, kleuterrympie, 'n kinderstorie, 'n feëverhaal, 'n mite, skeppingsmitologie, of religieuse narratief is wat jy dink net fiksie is, maak nie dat dit nie gravitas het nie. Daar is waarde in al hierdie eeue ou verhale. Lewensbelangrike waarhede.
... Sanko Lewis