Luister hoe die
wind haar geheimenisse fluister
in die denne se bolle en tussen wilgers se takke
tussendeur die skrefie-oop venster, onderdeur
die agterdeur en in die plaashuisdak se balke.
Die son het per ongeluk
nes ’n goudblad perkament
op die houtvloer geval, waarin in al haar verborge
dinge opgeskrywe staan—sy lê beskaamd en verweerbaar
vir almal om te sien. Maar niemand gewaar haar nie.
Óók in die reën
se neurie is daar waarheid te verneem
en juistheid te ontsyfer vir die met ’n oor wat kan kyk
en ’n oog wat kan luister; elke vers en profesie,
soos met slot en grendel, het ’n openbaring en verklaring.
In die aarde, in
die grond, tussen riwwe, kors en klont
lê versteekte dieper dinge uit die voortyd weggebêre
wat ook vir ons tyd iets te sê het, as jou vingerpunte
weet, en óók jou hart en óók jou gees, hóé om dit te lees.
... Sanko Lewis