10.11.23
Gee my jou hand
ek wil die riviere daarop navigeer,
die salm opwaarts volg na die kuitwaters,
my skuit anker by daardie vrugbare plek
waar silwer grashalms soos nimfe in die strome
onder die volste maan dans;
neem my hand as offergawe:
brand dit op die altaar van jou hart
en laat die wierook opwaarts rank
na daardie ver geheime laer
waarvandaan muses mites duif
na skribent en bytelaar;
laat ons hande hou soos jong en ou verliefdes:
vir wie ingepalmde hande omhelsings is,
vir wie ingevlegde vingers wellustige lywe is,
vir wie hande vat ’n verbond is—
laat ons velbakterieë met die hand groet,
mekaar verken, beken, en kruisbestuif.
... Sanko Lewis
31.8.23
Por farvor
'n filament flikker deur die donker firmament —
momentele enlightenment — dan,
'n onmiddellike ewigheid later: dié knal
galm deur die ganse heelal
en die daaropvolgende benoude ontnugterde asemophoustilte;
en dáárna 'n lukraak ritme van vallende pêrels,
óf albasters, of planete oor 'n marmervloer:
asof veertig dae
en veertig nagte
hurk ons soos kuikens
onder vere en luister hoe die gode
daar buite ons, of die mensdom, se lot beklink;
hier binne bibber-broei ons kaal lywe
teen mekaar en bid ons dat die vorste,
al is dit net vannag
(want môre bring sy eie bekommernisse),
die dak en ons bed en die laer sal spaar — por farvor
en wyl ons bid, dalk ook die meubels en meublemente,
die koelkas en spens, die kookware en breekware,
die kluis en dokumente, die albums en sentimente
bowenal, natuurlik, o Groot Heelal, spaar 'seblief
ons nietige lewens: kaalgat-ek en my kaalbas-lief
... Sanko Lewis
14.5.23
Besing alles—alom
en laat dit leef, laat dit uit die niet uit opskiet
soos woestynblomme; laat dit vraatsugtiglik gaap
soos veerlose kuikens wat vetsugtig lus het vir wurms
en die grote ope wye hemel; laat dit van die blad af spring
soos sebravullens ná ’n donderbui: swart streep letters
klop-klop galop oor wit papier.
Luister, Siel, krabbel dit of tik dit of duim ’n feestelike vers
vir als wat leef—en ooit geleef het—
’n inspirerende ode aan woorde en moontlikhede.
Want wie’s te wete of die son
nie dalk oomblikke terug geblus is nie?
Dus, verderflike mens, voor die koue duisternis kom,
besing alles—alom.”
... Sanko Lewis
18.3.23
karakter bou is nie vir kleinseuriges nie
kerf ek my karakter uit akkerhout,
met stomstomp kloue
klou ek verbete aan die wiegeliedjies
en kampvuurstories van my voorouers
wat in hul beurt ook bouers van karakters was:
ook verkragters en veroweraars was
en slawemeesters en geweldenaars;
óók slagoffers was, verwilderde
vlugtelinge was, slawe en verslaafdes,
en gekruisigdes:
ons moet ons voorsate se stories ken,
laat ons ons voorgeslagte se vergete mites
verken soos avontuurlustiges: die weeldigste
motiewe skuil in muwwerige grotdonker dieptes
waar die bedraaktes grommig is.
kyk broers: ’n penmeester kan óók eelte
op sy hande en blase op sy vingers hê;
neem notisie susters: sien al die stapels
wat met bloed-ink geskribbe is,
gewaar die opgetekende aanklagte
van ongeregtighede en onregverdighede:
teen julle my moeders en susters en dogters,
maar kyk nie die oumans se brûe rûe mis nie—
met geboë hoofde dra hulle generasies op hul skofte,
en kyk nie die jonges se wellustige avontuurlus mis nie.
Dankie moeder en vader en moeder se moeder en vader se vader,
en vroumens en mansmens en vroumansmens en mansvroumens
en mansmans en vrouensvrou: vir almal is daar ’n avontuur
en ’n draak en ’n karakter om te kerf uit hout:
karakter bou is nie vir kleinseuriges nie.
... Sanko Lewis