'n filament flikker deur die donker firmament —
momentele enlightenment — dan,
'n onmiddellike ewigheid later: dié knal
galm deur die ganse heelal
en die daaropvolgende benoude ontnugterde asemophoustilte;
en dáárna 'n lukraak ritme van vallende pêrels,
óf albasters, of planete oor 'n marmervloer:
asof veertig dae
en veertig nagte
hurk ons soos kuikens
onder vere en luister hoe die gode
daar buite ons, of die mensdom, se lot beklink;
hier binne bibber-broei ons kaal lywe
teen mekaar en bid ons dat die vorste,
al is dit net vannag
(want môre bring sy eie bekommernisse),
die dak en ons bed en die laer sal spaar — por farvor
en wyl ons bid, dalk ook die meubels en meublemente,
die koelkas en spens, die kookware en breekware,
die kluis en dokumente, die albums en sentimente
bowenal, natuurlik, o Groot Heelal, spaar 'seblief
ons nietige lewens: kaalgat-ek en my kaalbas-lief
... Sanko Lewis