10.6.25

Stap vir sielsiekes

Daar word—soos in ’n wasige droom—geloop,
op ’n oeroue voetslaanpad
deur ’n bos, deur ’n woud;
en tussendeur smarag en jaspis,
olivien en goud
drup die son
in slierte stroop.

[Dié beskrywing is te mooi
vir die donkerrooi van depressie.
Maar, helaas, dié wandeling
het in die somer gebeur,
nie die herfs nie.]

Daar word onthou: mistige beelde
en buikgevoelens word krits-krits met elke trap
op die wandelpad herkou: herinneringe
tot bolusse gekou en met heimwee afgesluk
en weer onderdruk vir ’n ander keer se stap
deur bos, of woud, of strandlangs
onder ’n laatmiddagson
wat soos ’n oorrypvrug
uiteindelik val, rol, kneus,
skielik skimmel en vergaan
(of onder ’n koel middernagmaan
wat weet hoe om te terapeut
wanneer die hart nie woorde het nie).


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence