luister, hoor dié
dierlike grom
wat drom in my krop—stop jou stommigheid
en deel jou
wysheid, verklaar watse beneukte
dreuning vibreer hier
in die grotkamers
van my ribbekas—is
daar drake?
wat na jare hulle
vas wil breek?
en nou wil deurbreek,
losbreek, uitbreek?
Magiër,
gee ag op my roep,
neem notisie
van my hulpkreet:
herroep
die ou profesieë,
lê uit, ontbloot, openbaar—
ek weet iets dergeliks
is op hande:
lees my palm, bespeur
my iris,
gewaar my lot en
verklaar
vanwaar die
noodlot se winde walm!
Alchemis,
gewis jy wis wat
was en is—dus,
sink in ink jou
penveer en graveer
die tekens van
ouds, laat die kerslig
jou titsels toelig,
formuleer ’n hipotese:
is dit reuse? uit
die oertyd?
wat lank in haat
en in verwyt
nou uit
hibernasie tot wraak ontwaak?
Priesteres,
my geloof is dun,
my hoop is yl—het jy vir my
’n spreuk of les om
sin te maak, of woord of fles
van die gode as
balsem vir my onrustige gees?
Of dalk ’n wapen vir
beskerming: ’n dolk of swaard,
’n spies of skild,
’n hamer of helm of mantel ondeurpriembaar?
Watse offer kan ek bied? Wie se bloed moet ek giet?
Hoe is rus vir my
siel bekombaar?
Troebadoer,
keel jou lied en lip
jou vers: neurie ’n wysie,
komponeer ’n rympie, sing ’n minnesang
wat kan resoneer
met die verlang van my hart.
Stram jou lier,
laat dit kwinkeleer en vibreer
soos kat-op-skoot,
soos skat-in-skroot:
smeek die Muse my
onthalwe—
met vuur-verruklik
my binneste te salwe.
... Sanko Lewis