8.6.11

daar’s nog tyd!

as jou asem in jou omkeer
jou lyf weer kaal terugkeer
gaan ek nie geboorte gee aan trane nie—
die Dood verdien nie geboortes nie

ek gaan nie eerbiedig knik nie
my huid formeel in swart omlyf nie
of lelies vir só okasie rangskik nie—
eerder probeer die Dood voëlverskrik!

daar’s nog tyd! kom ons lewe voluit,
kom ons huil vooruit, kom ons
beklee in pompadoerfrokke
en vlieg voëlvry Noorde toe.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.6.11

My hart is rou

My hart is rou, my gees is tam
die liefde is ’n slagveld van
die ergste smart en onheilspyn

My siel is bloot, my siel is kaal
my siel is deur verdriet besaal
die liefde skink die suurste wyn

                                  *

Jy verlei my uit my wapenrusting uit,
jy skeer my kop, jy stomp my byt
jy verraai my aan die Fillistyne –

En so het die liefde my verblind
so het die hartstog my verslint
so vee jy uit my hart se lyne:

En al wat oor is:
’n afgestompte bloedpomp
’n id sonder iets wat syn is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.6.11

Liefde-maak

wat’s die storie met “liefde-maak”?

            is ons heupe ’n fabriek? ’n raffinaairy
            wat liefde in liters voorberei?
            suig my penis soos ’n olieboor
            volumes liefde uit jou vagina voor? óf,
            spoeg ek skuimpies liefde
            uit my jou donkerte binne –
            ’n skrywer geïnspereer met sinne,
            [swart]gedagtes op [wit]papier?

ons maak nie liefde nie –
   
           Liefde maak ons.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.5.11

Vir wat dit werd is

Vir wat dit werd is ry ons roekeloos
en bloots die liefdesperd (daardie steekse hings
wat sweet skuim in sy swart flanke,
bronstig oor die lewe wat nog met ’n naelstring
van die hemelse plasente hang) asof
daar geen stof-tot-stof onder sy kloppende
graniet hoewe (nes harte van voortplantende
verliefdes, bedwelm in mekaar se sweet
en skuim en naelstring en plasenta) is nie.

Vir wat dit werd is doen ons dit (nou, terwyl
die son nog koud is en voor ons lywe oud is)
sonder toom of saal of eindpaal of langtermyn
verwagtinge (behalwe rou retrospeksie), wánt
die liefdesperd komeet verby, dalk eenmaal
in een leefseisoen       en die lus (wispulturig
soos ’n tong) droog saam met die lewe lek-lek op.

Vir wat dit werd is ry ons roekeloos en bloots.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.11

Sand-Kupido

My geliefde het die pad gevat,
opgerol en oor haar skouer gegooi.
Ek kan g’n spoor vind om te sny nie,
haar lyn is op g’n kaart te kry nie.

Ek roep na die boesman-van-die-liefde
met sy mossievlerkies dwarrelwind op sy stuitjie,
sy suikerbektongetjie klap-klap simpatie,
hy waaistert sy boog en pyltjie.

“Soek haar – snif haar reuk en vind haar.
Kom nie terug tot jy haar kry nie.
Leeg is die volstruiseier in my bors
en ek vrek al van die dors.”



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.5.11

Aarbeie en room

Beminde,
bring die aarbeie.

Die son borrel brons
op die horison.
Die duiwe in hulle gryspakke
brom huiswaarts.
Die katte maak los soos
loslyf atlete voor oefening.

Beminde,
ek bring room.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.5.11

Versoenery

laat ons nie te haastig wees
om die liefde totsiens te soen nie –
’n gesoenery is in elkgeval bedoel
vir versoenery en nie groetery nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.5.11

Vlinderliefde

Vanaf 'n smaraggroen takkie
val 'n pêrelwit bloeisel —
en vladder na 'n ander een.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.5.11

As ek sterf

As ek sterf, grawe nie 'n diep graf
vêr van die son af nie;
grawe vir my 'n vlak graf
sodat ek nie koud kry nie.

Tot dan, hou nie jou hart vêr
van my af nie; bly vlak neffens my.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Mities

Jy my Nimf, ek jou Pan, baljaar ons
kaalgat tussen boom en bas en bos;
ons speletjies ken mos g'n toom nie.
Ons is bosbefokte verliefdes.
Ek jou bok, jy my ooi, bokbespring
ons mekaar mitologies kras
en mities mooi.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence